‘n Afrikaanse kultuurdag wat die 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal vier, vind op Saterdag 10 Mei op Naval Hill plaas.
Die dag word deur die Ou Presidensie- Historiese Vereniging aangebied, en alles vind by die planetarium plaas.
Onder meer eetgoed, oudhede, gebak en boeke sal by stalletjies te koop aangebied word. Besoekers kan reeds van 12:00 af die stalletjies sien wat daar gaan wees.
Om 14:00 vind ‘n konsert deur Petro Engelbrecht (pianis) en Ilse Fourie plaas: Afrikaans op ons manier 3.
Ilse sing met hierdie uitvoering gewilde Afrikaanse liedjies en die gehoor word genooi om te luister en saam te sing.
Prof. Matie Hoffman neem om 15:15 besoekers op ‘n reis na die sterre danksy die beelde wat in die digitale planetarium vertoon word.
Om 15:45 word Spekskiet aangebied, waar enigeen ‘n storie kan vertel en die kans staan om R150 prysgeld te ontvang vir die beste storie – waar of onwaar.
Daarna volg Raai Raai Riepa, waardeur besoekers se algemene kennis getoets sal word. Pryse is hier ook op die spel.
Om 17:30 kan besoekers aan ‘n pretstap of hardloop om die planetarium deelneem.
Kaartjiegeld is slegs vir die vertoning van Afrikaans op ons manier 3 betaalbaar en kos R60.
Die kaartjies kan op computicket.com gekoop word.





