Meer as 86mm reën het al in November in dele van Bloemfontein geval, met 91mm in Oktober en 76mm in September in Westdene. Nog reën word vir die volgende paar dae voorspel.
Bloemfonteiners is baie dankbaar oor die reën maar storms beteken dikwels dat paaie oral in die stad onder water is en gevaar vir motoriste inhou.
Die stad se vervalle stormwaterstelsel kan nie groot massas water hanteer nie. Met donderstorms dam water soms so erg op, dat motors se enjins uitsny of nommerplate verloor.

Corize van Rensburg, DA-wyksraadslid in wyk 20 wat Heuwelsig, Dan Pienaar, Brandwag en dele van Westdene en Pentagonpark insluit, het vrae aan die stadsbestuurder, Sello More, en relevante amptenare voorgelê om formele verduidelikings te eis vir die metro se voortgesette versuim om infrastruktuur te onderhou en sy grondwetlike verpligtinge na te kom.
“Soos die reënseisoen voortduur, dra inwoners en ondernemings in Mangaung weer die ergste van ‘n ANC-beheerde metro se chroniese verwaarlosing,” sê Van Rensburg.
“Oorstroomde paaie, geblokkeerde stormwaterdreine, riool wat opdam en die Bloemspruit wat moet help om stormwater weg te voer, maar dikwels juis keer dat water wegvloei omdat dit toegegroei is, is net paar van die probleme.
“Vir ondernemings beteken elke oorstroomde straat of pad vol slaggate vertraagde aflewerings, minder kliënte en hoër bedryfskoste. Vir inwoners beperk swak infrastruktuur toegang tot werksplekke, skole en noodsaaklike dienste, terwyl dit ook eiendomswaardes verlaag en nuwe beleggings in die stad ontmoedig.”
Benewens water wat opdam, is een van die ander probleme rioollekke wat tydens reënbuie vererger en riool saam met reënwater laat lê.

Van Rensburg sê die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag ontbloot waarom Mangaung steeds ly.
Dit sluit in R1,34 miljard in ongemagtigde besteding en R122 miljoen in vermorsende besteding.
Dit toon dat slegs 2% van die infrastruktuurbegroting aan instandhouding bestee is, ver onder die aanbevole 8%.
Daar is R194 miljoen in voorwaardelike toelaes wat nie bestee is nie.
Verder is R297 miljoen deur die Nasionale Tesourie teruggehou weens mislukte projekimplementering.
In Mangaung is 60% van die paaie in swak toestand, met ‘n rehabilitasie-agterstand van R7,5 miljard.
Diemetro het slegs 45% van diensleweringsdoelwitte in 2023-’24 bereik, ten spyte van 11% oorbesteding.
Van Rensburg sê elke rand wat swak bestee word, elke verwaarloosde pad, elke geblokkeerde dreinering, lei tot hoër koste vir inwoners en verlore inkomste vir ondernemings.
Sy sê gemeenskappe tree op en maak ‘n groot verskil om strate te onderhou, maar dit behoort nie hul las te wees nie.
“Die DA-raadslede werk saam met inwoners om die metro se leemte te vul deur onder meer met gemeenskaps- en straatgroepe saamwerk om parke en openbare ruimtes te onderhou.”
Die DA in Mangaung ondersteun buurtinisiatiewe om veiligheid en toeganklikheid op paaie te herstel.
“Ten spyte daarvan dat inwoners getrou hul tariewe en belasting betaal, sien hulle minimale opbrengs op hul bydraes as ‘n onregverdige las wat ekonomiese groei verstik en vertroue in Mangaung as ‘n plek om te woon en sake te doen, ondermyn.
“Die reënseisoen het die koste van verwaarlosing blootgelê. Nou is dit tyd vir die metro om op te tree, lewensbestaan te beskerm en Mangaung te herstel as ‘n stad wat vir beide sy mense en sy sakesektor werk.”





You must be logged in to post a comment.