Inwoners van Universitas staan op hul regte om ‘n goeie lewensgehalte. FOTO: Lientjei Mentz

Lede van die Universitas-woonbuurtvereniging (UWA) en Unversitas-wes-woonbuurtverenigings het by monde van adv. Ramon Henney briewe aan verskeie rolspelers gestuur om uiting te gee oor die voortslepende frustrasie van Universitas-inwoners met studentegedrag en die nie-nakoming van behuisingspersele aan amptelike wette en regulasies.

Die skrywe aan die Mangaung-metro het gedien as finale eis vir die metro om sy eie verordeninge en nasionale wetgewing af te dwing teen onwettige studente-akkommodasiegeriewe wat die gemeenskap se lewensgehalte negatief beïnvloed.

Twee van die strate in Universitas waar daar talle studentehuise geleë is. FOTO: Lientjie Mentz

Formele briewe is ook gerig aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Parkweg-polisie en die Eiendompraktisynsreguleringsoutoriteit (PPRA). Klagte is in laasgenoemde brief geopper oor die misleidende bemarkingspraktyke deur eiendomspraktisyns wat versuim om aanhoudende gemeenskapsgeskille bekend te maak aan voornemende kopers. Volgens die brief hou sommige praktisyns aan voornemende kopers voor dat ‘n huis maklik in studente-akkommodasie omskep kan word, terwyl daar talle prosesse is wat gevolg moet word.

Vir jare al word privaateiendom aan voornemende studentehuis-eienaars verkoop wat dikwels onmiddellik begin met aanbouings om die geriewe vir studente aan te pas. Henney sê ook daar is kommer oor nie-geregistreerde praktisyns wat sonder geldige sertifikate werk.

Oor die reaksie van die polisie op gevalle waar studente die rus ernstig versteur, sê Henney hulle wag nou vir die polisie se regsafdeling om te reageer.

“Ons het ‘n formele klagte ingedien oor volgehoue onwettige aktiwiteite soos geraas, openbare dronkenskap, crimen injuria en die ooglopende gebrek aan optrede van bywonende polisielede, wat dikwels ‘n gebrek aan ‘n lasbrief as rede aangevoer het om nie eiendomme te betree nie,” sê Henney.

Henney sê volgens die gemenereg het polisiebeamptes die reg om ‘n perseel te betree en op te tree teen diegene wat die rus versteur. Volgens wet mag polisiebeamptes ook enigeen wat die wet oortree, in hegtenis neem. Sommige van die onwettige aktiwiteite sluit in buitengewone harde lawaai met harde musiek en partytjies, die strooi van rommel in naburige eiendom, openbare dronkenskap en verbale mishandeling, intimidasie en die opsetlike beskadiging van iemand se waardigheid.

Lees ook berig oor studente-kommune-eienaars wat in ‘n stryd gewikkel is om akkreditasie te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article