Die Vrystaatse streekuitdunronde van AfriForum se onvoorbereide debatskompetisie, Dink of Sink, is op 21 Augustus beslis.
Die deelnemers het met hul redenasies, asook spitsvondigheid, beïndruk en die beoordelaars moes diep dink om die wenspanne aan te wys.
Dit was die vyfde en voorlaaste streekuitdunronde in vanjaar se kompetisie.
Die Hoër Meisieskool Oranje was weer die gasheerskool hiervoor.

In die afdeling vir junior hoërskoolleerlinge het die span “Raakpraters” se Miné Truter, Bokamoso Matlakala en Nina Bloem van Oranje as wenners uit die stryd getree.
Die “Woordewapens” se Joah de Villiers, Hannes Deacon en Dirk Deacon van die Hoërskool Jim Fouché was die naaswenners.
In die senior afdeling was Josh Faber, Christiaan van Aardt en Hanco Cilliers van die Hoërskool Sentraal se span “Sentraal 1” die wenners.
Lisa Botha, Jaco Deysel en Amoné Verwey van Jim Fouché se “Aanvallende Anties (en ‘n oom)” was in die tweede plek.

Vanjaar se kompetisie is besonder goed ondersteun, met 11 spanne wat in die junior afdeling deelgeneem het, en 21 in die senior afdeling.
Die skole wat deelgeneem het, is die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, die Hoërskool Reitz, die Hoërskool Trio van Kroonstad, Grey-kollege (sekondêr), Jim Fouché, die Hoërskool Sand du Plessis, Sentraal en Oranje.
Van die spanne het oorspronklike name gekies, byvoorbeeld “Die Babbelbende”, “Woordmoord” en “Kletskampioene”, wat hul stempel afgedruk het.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is die dag gekenmerk deur debatte van die hoogste gehalte.
“Debatvoering is ‘n sleutelvaardigheid wat leerlinge onder meer bemagtig tydens hul skoolloopbaan, universiteitstudie en in enige werksomgewing.
“Die kompetisie is vir AfriForum van kern-belang, omdat ons wil verseker dat die jeug ingelig oor aktuele sake moet bly en op hul voete daaroor moet kan standpunt inneem,” sê sy.
“Dit is inspirerend om te sien hoe die kompetisie jaarliks groei. Ons sien uit na die nasionale eindronde wat vanjaar op 27 September in Centurion sal plaasvind,” voeg Bailey by.







You must be logged in to post a comment.