Jannie van Vuuren het Suid-Afrika verteenwoordig as ‘n beoordelaar op die Artistiese Gimnastiek-wêreldbyeenkoms in Jakarta. FOTO: Verskaf

Die 53ste Wêreldkampioenskappe vir Artistiese Gimnastiek is onlangs gehou in Jakarta, Indonesië, waar Jannie van Vuuren Suid-Afrika as ‘n beoordelaar verteenwoordig het.

Die kompetisie het plaasgevind van 19 tot 25 Oktober.

Daar het altesaam 254 mansgimnaste van 75 lande aan dié byeenkoms deelgeneem.

Van Vuuren was by die kompetisie ingedeel om beulperd en vloer te beoordeel in albei die span- en individuele kompetisies.

Hy verduidelik om te kan optree as ‘n internasionale gimnastiekbeoordelaar, moet die beoordelaar elke vier jaar kwalifiseer.

“Ek het in Desember my eksamen in Switserland geskryf en die eksamen geslaag as ‘n kategorie 2-beoordelaar, wat die naashoogste internasionale kwalifikasievlak is.

“Slegs die 25 topdeelnemers in die eksamen kry ‘n kategorie 1-klassifisering.”

Hy was self ‘n gimnas by die Callie Human-gimnastiekklub en het sy eerste internasionale beoordelaarskursus in 1997 geslaag.

Behalwe beoordeling, is Van Vuuren ook nog aktief betrokke by gimnastiek-afrigting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article