‘n Jong biokinetikus van Bloemfontein pak binnekort die 1 000km tussen die stad en Kaapstad per fiets aan.
Bea Labuschagne (22), ‘n oudleerder van die Hoër Meisieskool Oranje wat verlede jaar haar studie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi het, sê die Here het dit op haar hart geplaas om so ‘n uitdaging te onderneem om skoolgaande kinders te help.
Sy het ‘n niewinsgewende organisasie, Prosper in life with Christ, geregistreer en gaan met haar ondersteuningspan die tog na Kaapstad onderneem as eerste bewusmakingsveldtog en om geld vir dié organisasie in te samel.

“My oogmerk is om leerders wat dit nie altyd kan bekostig nie, geldelik te ondersteun met sport- en akademiese ontwikkeling.”
Labuschagne praat uit eie ervaring.
“Ek wil teruggee oor al die gawes wat ek danksy ander ontvang het,” vertel sy.
“As kind was daar talle uitdagings in ons huis, maar ek is dankbaar om te kan sê dat die Here altyd uitkoms gegee het.
“Ek het nou die geleentheid om leerders te help, om Jesus se hande en voete te wees.”
Deur die jare het sy besef dat elke keuse wat jy uitoefen, ‘n invloed op jou lewe het.
“Elke trap simboliseer ‘n keuse wat jy uitoefen.Klein keuses raak later gewoontes – wanneer hierdie keuses sleg is, is dit dikwels nie net vir jouself nadelig nie, maar ook vir mense rondom jou.
“Jou keuses beïnvloed ook ander se lewe.”
Sy meen die fietsry is op ‘n manier baie simbolies van ‘n mens se besluitneming elke dag.
Labuschagne gaan op 22 Februarie op haar fiets klim en oor twee weke padlangs ry tot in Kaapstad. Die roete is in skofte opgedeel, met die langste skof die een tussen Hanover en Drie Susters – wat oor 140km strek.
Met die projek Cycling with Christ wil sy deure oopmaak en jongmense bemagtig sodat elkeen sy God-gegewe doel kan bereik en vry kan wees van omstandighede wat hulle inperk.
“Ek wil help om geleenthede moontlik te maak wat vir ‘n kind dalk onmoontlik kan lyk.
“Ek weet Jesus gaan elke tree saam met my wees,” sê sy met oortuiging.
“Nou wil ek ander uitdaag om my in hierdie tog te ondersteun, hetsy met ‘n geldelike skenking per kilometer, ‘n eenmalige skenking, die borg van petrol of akkommodasie langs die pad; of eenvoudig met gebed en aanmoediging.”
Vind meer uit oor die fietstog deur Labuschagne by 066 199 9321 te bel, of ‘n WhatsApp-boodskap te stuur.






You must be logged in to post a comment.