Sedert die Hospice-winkel in 2022 op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gevestig is, het dit goed uitgebrei.
Buiten die liefdadigheidswinkel, waar ‘n groot verskeidenheid gebruikte klere en breekware spotgoedkoop verkoop word, is daar nou soveel meer.

Hier, by Santa Fé, is daar ook ‘n koffiewinkel met heerlike gebak.
“Dit is lekker as mense hier kom koffie drink en kuier. Ons reël ook eetgoed vir vergaderings en gesellighede,” sê Lorica Coetsee.
“Dit is die perfekte plek vir uitstappies vir gesinne met kinders.”
Benewens dié winkel, is daar nog twee ander aan die agterkant van die museum.
Die eerste is ‘n boekwinkel, met sowat 10 000 boeke waaruit besoekers kan kies en keur. Hierdie boeke word, net soos die ware by die liefdadigheidswinkel, deur die publiek geskenk. Dit word teen baie billike pryse verkoop.

Daarnaas is Pennie se krapwinkel, waar ‘n groot verskeidenheid gebruikte artikels te koop is.
Dit sluit in rystoele, krukke en bedpanne.
Klante word die opsie gebied om dié soort artikels ‘n ruk lank te huur. Dit is veral gerieflik vir mense wat so iets net tydelik benodig en nie alles nuut wil koop nie.
“Die geld wat met die verkope by al hierdie winkels verdien word, word aangewend ter ondersteuning van Hospice Bloemfontein,” verduidelik Coetsee.
“Ons is baie geseënd omdat mense se hande oop is, en dit is vir ons lekker,” sê sy oor dié projek.
“Kom doen inkopies en kom gesels met die vrywilligers wat die winkels beman,” nooi Coetsee.
Die Hospice-winkel is Maandae tot Saterdae van 08:30 tot 16:00 oop, maar is nie op Sondae en Christelike vakansiedae nie.





You must be logged in to post a comment.