Tammy Breedt, VF Plus lid van die nasionale raad van provinsies, Vrystaat.
Tammy Breedt, VF Plus lid van die nasionale raad van provinsies, Vrystaat.

Die Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha-Mathae, se provinsiale openingsrede Vrydag 20 Februarie verwys met trots na die Vrystaat se potensiaal, die Gariepdam, die grootste dam in Suid-Afrika, nasionale paaie en toerisme- en ontwikkelingskorridors.

Infrastruktuur beteken egter niks as dit nie onderhou en bestuur word nie.

Tammy Breedt, die VF Plus se verteenwoordiger van die Vrystaat in die Nasionale Raad vir Provinsies, sê in die dorp van Gariepdam sit inwoners sonder betroubare water. “Gastehuise wat toerisme moet dra, kan nie basiese dienste lewer sonder hul eie jojo-tenks nie. Toere deur die dam, wat voorheen ’n trekpleister was, is nie meer beskikbaar soos in die verlede nie.”

Breedt sê in toespraak na toespraak word die Vrystaat se potensiaal uitgelig, maar potensiaal sonder instandhouding beteken min vir gemeenskappe wat daagliks met verval leef.

In haar toespraak het Letsoha-Mathae verwys na die drie nasionale paaie wat deur die Vrystaat loop, die N1, N6 en N8 en die bymekaarkom van drie provinsies – die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap.

“Die potensiaal wat die drie provinsies vir toerisme bied, sluit ontwikkeling van gemengde gebruik, toerisme gebaseer op biodiversiteit, erfenis-toerisme asook water-gebasseerde toerisme in met ontwikkelingsvoouitsigte vir Gariepdam,”

Breedt sê hiermee kondig die premier planne aan, maar implementering daarvan bly agter. “Die VF Plus verwag nie nog planne of herhaling van nasionale beleidsdokumente nie, maar ’n duidelike, provinsiale implementeringsplan met konkrete tydlyne, veral rakende die bek-en-klouseer-krisis.”

LEES OOK: Bek-en-klouseer-krisis: Alle oë op Ramaphosa en die staatsrede

Sy sê die premier verwys na moontlike verbeterde entstofbeskikbaarheid en samewerking met tradisionele leiers, maar versuim om te sê wanneer entstowwe arriveer, hoeveel beskikbaar sal wees, waar die uitrol gaan begin en of die nuut-aangestelde veeartse daadwerklik vir inentings ontplooi gaan word.

“Nog ernstiger is dat georganiseerde landbou en boere, die primêre rolspelers wat daagliks met die impak van bek-en-klouseer saamleef, nie sentraal in die strategie geplaas word nie.

“Die VF Plus verwag aanspreeklikheid. Wanpresterende amptenare moet verantwoordbaar gehou word, kontrakte hersien en dissiplinêre stappe volg waar dienslewering misluk. Dit help nie om nuwe planne aan te kondig as bestaande strukture nie funksioneer nie. Dis nie altyd nuwe poste wat nodig is nie, dis die vervanging van mense wat nie hul werk doen nie.”

Breedt sê intussen oorleef gemeenskappe nie danksy provinsiale ingryping nie, maar danksy hul eie mense, plaaslike ondernemings, boere en inwoners wat hande vat om basiese dienste aan die gang te hou.

“Dít is die ware krag van die Vrystaat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article