Hy het lank gewik en geweeg of hy die boek moet skryf, en hy het einde verlede jaar daarteen besluit.

Só gesels Barnard Beukman, voormalige redakteur van die dagblad Beeld, wat verlede jaar as gedrukte koerant gestaak is, oor sy boek Die (vreemde) einde van ‘n koerant wat pas deur Naledi uitgegee is.

“Aan die begin van vanjaar het die debat van nuuts af opgevlam, veral in ‘n tema van die ATKV-skoledebat, en ek het besluit dat ek my ervaring moet neerpen. Die sluiting van die Afrikaanse dagblaaie het soos suurdeeg deur die gemeenskap versprei.”

Beukman sê sy navorsing was reeds gedoen, en in April het hy die boek geskryf.

Barnard Beukman gesels Saterdag 4 Oktober oor sy nuwe boek Die (vreemde) einde van ‘n koerant in Naln in Bloemfontein. FOTO: Verskaf

“Ek wou hierdie stuk eietydse geskiedenis neerpen. Die sluiting van die gedrukte koerante Beeld en die Rapport, die Sondagkoerant, deur Media24 is op so ‘n slordige en disrespekvolle manier teenoor die lesers en personeel gedoen,” sê hy.

Die hele drama het op Donderdag 13 Junie 2024 begin, met nuus wat op die sake-webwerf Moneyweb gebreek is dat Media24 die dagblad Beeld, asook die titels Rapport, Daily Sun en City Press, sou sluit.

“Van daardie oomblik het alles soos in ‘n rolprent afgespeel,” sê Beukman.

Hy weef die verhaal van hoe die personeel wat geraak is dié nuus van ‘n buite-bron moes hoor en hoe die berig die maatskappybase “van balans af geruk” het.

Beukman gesels op Saterdag 4 Oktober om 10:00 in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) oor Die (vreemde) einde van ‘n koerant. Elsabe de Jager sal die gesprek lei.

Mense kan hier hoor wat in die gange en raadsale van Beeld afgespeel het; ook wat nie in die boek staan nie.

Bespreek gratis bywoning deur ‘n e-pos te stuur na vriendevannaln@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article