‘n Uitsonderlike aand waarop jong musikante se talent in massa vertoon word, vind op Saterdag 26 Julie plaas.
Die OMS-Orkes-Extravaganza, ‘n aand wat die orkeskultuur in die stad vier, word in die M.L. Spies-saal by die Hoër Meisieskool Oranje aangebied.
Heinrich Lategan sê dit is die vierde jaar dat dié geleentheid in die stad gehou word, en dit beloof ‘n onvergeetlike ervaring.
“Ná verlede jaar se groot sukses is hierdie konsert in dié formaat nou in sy tweede jaar, met die hoop om dit ‘n geliefde jaarlikse tradisie te maak,” sê hy.
“Die aand bring orkeste van
Bloemfonteinse skole bymekaar om elk hul eie nommers uit te voer, en sluit af met ‘n indrukwekkende massorkesoptrede van meer as 150 jong musikante uit die stad.”
Die massorkes staan onder leiding van Lategan as dirigent.
Deelnemende orkeste sluit in die:
■ OMS-simfonieorkes;
■ OMS-beginnerorkeste;
■ Oranje Primêr-orkes;
■ Willem Postma-simfonieorkes;
■ Eunice Ensemble;
■ FSYO Sinfonietta;
■ Bochabela String Orchestra; en
■ MSP Royal Angels.
Elke orkes sal twee werke uit sy eie program uitvoer voordat almal saamspan vir die groot afsluiting van die aand.
“Hierdie geleentheid bied nie net
vir jong orkeslede ‘n waardevolle verhoog om hul talent te wys nie, maar versterk ook die bande tussen Bloemfonteinse skole en gemeenskapsmusiekprojekte.”
Dit is die vierde keer dat die konsert aangebied word − vorige geleenthede was in 2016, 2017 en 2024.
“Ons hoop is dat die OMS-Orkes-Extravaganza jaar ná jaar voortbou, en só ‘n inspirasie vir deelnemers én gehore sal wees,” sê Lategan.





