Die senior koor van die Laer Meisieskool Oranje tydens die opname van die musiekvideo. FOTO: Verskaf

Die talentvolle leerlinge van die Laer Meisieskool Oranje se senior koor verskyn binnekort in ‘n splinternuwe video.

Die koor berei voor om die seisoen van nuwe lewe en hoop te verwelkom met ‘n besondere musikale huldeblyk.

Die koor doen Donderdag, 28 Augustus ‘n video-opname van die liedjie “Bhombela” – ‘n aangrypende, tradisionele IsiZulu-stokkieslied wat die storie vertel van ‘n ma en haar kinders op ‘n trein in Suid-Afrika. Hierdie spesiale opname sal op 1 September – die eerste dag van lente – vrygestel word as ‘n viering van lewe, veerkragtigheid en kulturele erfenis.

Die koor, onder leiding van dirigent Werner Stander en begelei deur Maretha Steyn, is opgewonde oor hierdie betekenisvolle projek.

Die senior koor van die Laer Meisieskool Oranje. FOTO: Verskaf

Die verwerking van “Bhombela” is oorspronklik deur Will Skaff geskryf en later deur Stander aangepas om by die koor se unieke klank en karakter te pas.

“Bhombela” is veel meer as net ‘n lied,” sê Stander. “Dit is ‘n storie wat diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en bevat die woorde ‘evusa abantwana’ (sy maak die kinders wakker), wat moederliefde en die hoop van ‘n nuwe môre oproep. Hierdie viering van lente deur musiek beklemtoon die koor se toewyding aan uitnemendheid en kulturele uitdrukking, en beloof om ‘n roerende huldeblyk te wees aan die seisoen en die stories wat ons vorm.”

Hou gerus Oranje se sosiale media dop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article