Slegs ure nadat ‘n kragonderbreking ‘n groot deel van die noorde van Bloemfontein oor die naweek lamgelê het, was daar ‘n onploffing by dieselfde Bayswater-substasie.
Die ontploffing Maandag ongeveer 21:15 by een van die 132/133 kVA-transformators by die Bayswater-verspreidingsentrum, het groot dele van die stad weer sonder krag gelaat.
Die Mangaung-brandweer is ingeroep om die vuur te blus.
Teen die vroeë oggendure het spanne van Centlec steeds probeer om die omvang van die skade te bepaal.
Centlec is op die toneel en werk aan ‘n oplossing. Hulle is op koers om die 24-uur hersteltydperk te haal. Salmé Pretorius, raadslid, sê sy onderneem om almal op hoogte te hou soos nuwe inligting beskikbaar is.
Centlec doen ‘n beroep op inwoners om voor te berei vir die ergste scenario.
Herstel na skade aan hoëspanningsinfrastruktuur kan wissel van ongeveer 24 uur tot verskeie dae, afhangende van:
- die omvang van skade aan die transformator en gepaardgaande toerusting
- of ‘n plaasvervangende eenheid plaaslik beskikbaar is, indien benodig
- die kompleksiteit van herstelwerk en veiligheidstoetse
- Weer- en terreinveiligheidstoestande
Centlec sê hulle sal voortgaan om geverifieerde opdaterings te deel soos dit beskikbaar raak.
Oorweeg asseblief die volgende voorsorgmaatreëls:
- Hou yskas- en vrieskasdeure toe om kos te bewaar
- Stoor drinkwater en gebruik water spaarsamig
- Laai fone en noodsaaklike toestelle wanneer krag beskikbaar raak
- Kyk na bejaarde bure en kwesbare inwoners
- Gebruik kragopwekkers veilig en verseker behoorlike ventilasie
- Skakel toestelle af om skade te voorkom wanneer krag terugkeer



