Oor ‘n week is die kunste in alle vorme op Bloemfontein se voorstoep.

Kunstenaars, akteurs, skrywers en musikante stroom reeds na die stad vir die Vrystaat Kunstefees wat op Dinsdag 15 Julie in die stad begin.

Jannie du Toit is by die fees met ‘n vertoning wat hulde bring aan Nederlandse sangers.

Volgens Jannie is De wals van de liefde van Nederlandse sanger, Toon Hermans, een van die aangrypendste liedjies wat hy nog in sy 55 jaar op die verhoog gesing het. Daarom het hy besluit om dit die titellied te maak van sy splinternuwe Nederlandstalige program wat hy beplan om oor die land heen aan te bied.

Die liedjies is hoogtepunte uit die bloeitydperk van die 20ste eeuse Nederlandse kleinkuns. Die ryk erfenis van uitdrukkingskrag, wysheid en gevatheid van die Nederlandse taal soos vasgevang in tekste, akkoorde, ritmes en wysies – kortom in liedjies – is vir Jannie ‘n oneindige bron van inspirasie.

By Jannie se konserte is daar altyd weer versoeke vir die “Hollandse” (eintlik natuurlik Nederlandstalige) liedjies van Brel, De Corte,  Van Veen, Robert Long en Urbanus. In De Wals van Liefde kry musiekliefhebbers die geleentheid om al die “toppers”, soos die Nederlanders dit noem, in een program te hoor.

Jannie du Toit se gunstelinge uit die Nederlandse kleinkuns is op die Vrystaat Kunstefees te hoor.
Deryn Dednam (saksofoon), Marcel Dednam (klavier) en Jannie du Toit tree op in De Wals van de Liefde op die Vrystaat Kunstefees van 16 tot 18 Julie.

Jannie word in sy nuwe program op klavier en alt-saxofoon begelei deur die egpaar Marcel en Deryn Dednam, wat ‘n paar jaar gelede pryswenners in Jannie se ‘n Nuwe Baadjie-kompetisie was. Marcel is bekend as begeleier vir Nataniël, Anna Davel en Leon Gropp. Deryn is – soos Marcel – gereeld deel van onder andere Anna Davel se ensemble en hulle is albei musiekonderwysers in Pretoria.

“Nederlandstalige musiek het my loopbaan sonder twyfel ingrypend beïnvloed, en danksy my belangstelling het daar ook wonderlike geleenthede op my pad gekom”, vertel Jannie.

“Toe “luisterlied” in 1979  modewoord in Suid-Afrika geword het, het vriende soos Stephan Bouwer en Hennie Aucamp vertel dat dit ’n term is wat in Nederland gebruik word vir die soort liedjies wat Musiek en Liriek voorstaan. Die beste voorbeeld in Afrikaans is na my mening die oeuvre van Koos du Plessis – die Nederlanders gebruik ook die term “kleinkunst” om die breë genre te beskryf. In hierdie tyd het die belangrikheid van aansluiting by die Nederlandse erfenis na vore gekom. Van 1979 af het belangstelling daarin toegeneem – veral sedert die middel 90’s toe Herman van Veen, Stef Bos en andere in Suid-Afrika begin optree het. Die onverklaarbare gebrek aan kontak op daardie vlak vir die grootste deel van die twintigste eeu, is na my mening ‘n verlies wat waarskynlik albei kulture – Afrikaans en dié van die Lae Lande armer gelaat het.”

Jannie sê in Amsterdam het hy op ‘n kroegstoeltjie by ’n platewinkel gaan sit en gevra dat die man vir hom “luisterliedjes” moet speel.

“Op die ou end het hy uitgekom by presies dit waarna ek gesoek het: ’n album wat in daardie jaar – 1979 – uitgereik is, getitel “De wonderlijke avonturen van Herman van Veen”. Ek val letterlik van daardie “bar-kruk” af toe ek hoor wat Van Veen kon doen in ‘n taal wat so naby aan Afrikaans was dat ek by die eerste luister met sy duidelike diksie elke woord daarvan kon verstaan. Van Veen is waarskynlik die grootste talent wat die Nederlandse kabaretverhoog ooit opgelewer het. Ek het uiters begeesterd na Suid-Afrika toe teruggekom, vasberade om seker te maak dat Afrikaanse mense Herman van Veen se musiek sou hoor.”

Hy het sedert 1990 met Robert Long in kontak gekom en na heerlike kuiers deur die jare in Antwerpen het hulle goeie vriende geword.

“Ons het gereeld saam “een hapje gegeten” in Antwerpen, en  Christa Steyn en ek so rondom 2004 saam met hom in Nederland gaan toer.

“In Pretoria, waar my ma die matrone van ‘n Nederlandse aftree-oord – De Meerpaal – was, het een van die inwoners – dr Strijdom – vroeg in 1980 vir my ‘n langspeelplaat van Jules De Corte gegee toe sy van my opgewondenheid oor die Nederlandse kleinkuns hoor. Ek glo tot vandag dat daar geen beter liedjieskrywer in enige taal kan wees as hy nie. Dié blinde pianis-sanger-digter-humoris-filosoof-taalman het rondom 3000 liedjies geskryf en was op elke terrein van sy vak – die liedkuns – superbegaafd. Hy het sy grootste “treffer” – as kommentaar op die Tweede Wêreldoorlog en oorlog in die algemeen – in 1948 geskryf:  “Ik zou weleens willen weten”.

Jules het in diens van ‘n radiostasie daagliks liedjies oor sake van die dag geskryf waarmee hy elke moontlike onreg kaalkop gekonfronteer het, oor elke gebeurtenis met insig en humor geskryf het, en op ‘n unieke manier oor die aardse bestaan nagedink het.

“Hy is in Februarie 1996 oorlede, een maand nadat ek hom ontmoet het by sy huis in Helenaveen, Nederland. Ons het ‘n dag lank onophoudelik gesels en van sy liedjies saam gesing. Hy het my ook begelei om “Die Afrikaanse wiegeliedjie” van CJ Langenhoven en Emiel Hullebroeck te sing – ‘n lied wat hom baie na aan die hart gelê het. ‘n Paar dae later het ek saam met hom na die ateljee van sy vriend Joop Timmer in die naburige dorpie Nuenen gegaan, waar ek saam met hom  sy beroemde “Ik zou weleens willen weten” gesing het. Daar is ‘n video-opname daarvan gemaak en tot my verstomming het ek later uitgevind dat die opname saam met my held op ‘n postume DVD verskyn.”

Die begin van my fisiese musiek-kontak met die Lae Lande was in 1988 toe ons groep Blik en Snaar – op uitnodiging van Suid-Afrikaanse ambassades in Europa op reis gegaan het. In 1993 was Skadu’s teen die muur, oor die musiek van Koos du Plessis  op verskeie plekke in Vlaandere – onder meer in Mechelen, Brugge, Brussels en Gent, en ook in die Kurhaus Hotel in Scheveningen. ‘n Vlaming het na afloop van ons Koos Doep-konsert een aand in die vroeë 90s in Antwerpen vir my gesê: “Dat man had echt wat te zeggen!” Ons kan dus nie alleen Nederlandse kleinkuns in Suid-Afrika bevorder nie – dit kan dit ook andersom gebeur.

Daar is drie vertonings van De Wals van de Liefde in die Naval Hill-planetarium – op Woensdag 16 Julie om 17:00, Donderdag 17 Julie om 19:30 en Vrydag 18 Julie om 10:00. Kaartjies kos R180 tot R200 en is op webtickets.co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article