BLOEMFONTEIN. ‘n Nuutgeskryfte dramastuk word vandeesmaand deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater, in samewerking met Pacofs, aangebied.
Roep van die Leeu, geskryf deur Maretha Maartens, is gegrond op die lewensverhaal van skrywer C.S. Lewis. Baie mense sal Lewis ken as die skrywer van The Chronicles of Narnia waarin die leeu genaamd Aslan ‘n sentrale rol speel.
Wat baie mense dalk nie weet nie, is dat C.S. Lewis ‘n uitgesproke ateïs was voordat hy tot bekering gekom het.
Hy was ‘n hoogaangeskrewe apologeet, bekend vir argumente vir Christenskap.

Peter Taljaard, wat die rol van Clive Staples Lewis vertolk, sê in wese gaan Roep van die Leeu oor liefde.
Die toneelstuk volg Lewis se lewe en hoe hy met logika redeneer oor hoekom dit sin maak om geloof in God te hê.
“Die toneelstuk is vir Christene ‘n bevestiging van hul eie geloof,” sê Taljaard.
“Vir dié wat nie seker is nie, bied dit ‘n ander kykie op hoe iemand intellek met geloof versoen.”

Ebeth Wilson van die ATKV nooi almal om deel te wees van die lewendige viering van geloofsgeïnspireerde kuns.
Vertonings word op 19 en 20 September aangebied, telkens om 19:00 in die André Huguenet-teater.
Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Pacofs se kaartjiekantoor of aanlyn op webtickets.co.za.






You must be logged in to post a comment.