Gebreide blokkies van oor die land heen is deur kundige hande aanmekaargewerk om pragtige komberse aan minderbevoorregtes te skenk hierdie Mandeladag.
Vroue van Iessie Steenberg se brei, hekel en stik-groep asook ander vrywilligers het Vrydag 18 Julie vir 67 minute die laaste blokkies vir die Oorlogsmuseum se Squares of Love-projek gebrei en gehekel.
Tony Nunes van Saprotex, die enigste vervaardiger van breiwol wat nog in Suid-Afrika gemaak word, het van hul wol vir die projek geskenk. Hy was ook Vrydag by die Santa Fé-restaurant waar die vroue byeengekom het.
Van hierdie komberse en kussings wat danksy hierdie projek gemaak is, is 38 stelle komberse en kussings aan Anchor of Hope oorhandig en die res aan Angel Arms.

Sonja Stroebel van Anchor of Hope wat die komberse in ontvangs geneem het, sê die skenking aan Anchor se nuwe Miracle House is vir vroue en kinders.
Dié huis met 16 kamers sal ‘n tydelike tuiste wees vir vroue en kinders wat uit ‘n agtergrond van mishandeling kom. Sy sê die wetlike dokumente het effens langer geduur, maar die huis behoort na verwagting op 1 Augustus amptelik te open.
Die nuwe huis is een van sewe projekte van Anchor of Hope. Die ander is die mans-skuiling Lighthouse Upliftment Centre waar 23 mans bly en werk in Anchor se skoonmaakspanne.
Daar is ook ‘n handwerk-afdeling wat vroue naaldwerk leer en wasbare sanitêre doekies vervaardig, ‘n meubel-afdeling wat kombuiskaste maak en ‘n afdeling wat rusbanke vervaardig.
Die res van die komberse is aan Angel Arms geskenk.
Tinkie Delport en haar skoondogter, Simoné Delport, het Vrydag dié skenking op Angel Arms se perseel in Erlichpark in ontvangs geneem.
Dié organisasie voorsien ontbyt en middagete vir ongeveer 140 kinders gedurende skoolvakansies en help ook met kospakkies waar moontlik. Angel Arms voorsien ook Dinsdae etes aan sowat 50 bejaardes.
Simoné sê die behoefte in die gemeenskap bly toeneem en skenkings word al minder. “Ons help nie net mense in ons direkte omgewing nie, ons reik ook uit na inwoners in nood in Wilgehof, Kelly’s View, Generaal de Wet en Oranjesig en ander dele van die stad. Ons kry veral die laaste agt maande swaar. Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat ons Vrydag gekry het,” sê sy.






You must be logged in to post a comment.