Die man met die groot hart vir sy medemens en assistent-bestuurder van Pick n Pay Reizis Square David Garrett (53), is Woensdag ná 17:00 in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede.
David, wat eers vir 10 jaar die deli-bestuurder by Pick n Pay Preller Walk was en sedert die opening van Pick n Pay Reizis Square daar die assistent-bestuurder is, het diep spore in die gemeenskap getrap.
Dawie van Zyl, ‘n kollega by Pick n Pay Reizis Square, sê David was ‘n man van baie woorde, maar ‘n nog groter hart. “Hy het altyd iemand iewers gehelp.”
Dawie sê David het verlede week sleg begin voel en hy het hom twee keer na Nasionaal-hospitaal geneem. Sy toestand het verder verswak en hy is Maandag 29 September in die Pelonomi-hospitaal opgeneem waar hy behandeling ontvang het en geopereer is. Hy is Woensdag vermoedelik aan ‘n bloeiende maagseer oorlede.
“Ons by Reizis Square gaan hom baie mis,” sê Dawie. “So ook almal wie se harte hy aangeraak het.”
David laat ‘n seun, Vernon Garrett en ‘n suster, Crystal Booysen, asook sy lewensmaat van baie jare Morné Nieuwoudt agter.





