Die historiese Vierde Raadsaal wat tydelik gesluit is vir herstelwerk.
Die historiese Vierde Raadsaal wat tydelik gesluit is vir herstelwerk.

Baie van die skade aan provinsiale geboue kan beperk word deur behoorlike onderhoud.

Dit is die mening van Werner Pretorius, DA-wetgewerlid en woordvoerder vir die party oor sport, kuns, kultuur en ontspanning.

Pretorius het vroeër die week in ‘n nuusverklaring gesê die DA verwelkom die voorsiening van die departement van openbare werke en infrastruktuur van ‘n begroting vir die doen van dringende onderhoudswerk by die Vierde Raadsaal, aangekondig deur LUR Dibelo Mance.

Die Vierde Raadsaal, die setel van die Vrystaatse wetgewer, wat baie instandhoudingswerk benodig. FOTO: Lientjie Mentz

Dié gebou wat dien as die provinsiale regering se setel, is sedert verlede jaar tydelik gesluit ná berigte in BloemNuus dat daar gesondheids- en veiligheidsgevare bestaan en dat instandhoudingswerk eers gedoen moet word voordat die gebou weer gebruik kan word.

LEES: Setel van wetgewer in Vrystaat benodig dringend instandhouding

Pretorius sê tydens die wetgewersitting op 3 Desember het Mance bevestig dat R42 miljoen toegewys is vir herstelwerk aan die Vierde Raadsaal in die volgende twee geldjare tot 2028.

Die saal in die Vierde Raadsaal in Pres. Brandstraat. FOTO: Verskaf

“As die departement proaktief optree en onderhoudswerk doen by al die provinsiale geboue, sal dit skade teenwerk. Skade aan geboue kan beperk word deur gereelde onderhoud soos die skoonmaak van geute en die instandhouding van dakke,” meen hy.

By monde van Pretorius is die DA ook bekommerd oor ander Vrystaatse bakens, soos die ikoniese premierswoning in Happy Valley wat in Maart 2023 afgebrand het en steeds nie herstel is nie.

“Ons wil ook weet wat het geword van die herstelwerk wat aan die draairestaurant op die 26ste verdieping van die Provinsieale Regeringsgebou (die ou CR Swartgebou). Restourasiewerk van R4,6 miljoen is in 2014 vir die doel toegewys en talle tenders vir die huur van die restaurant is geadverteer. Steeds is die restaurant gesluit.”

Die Sand du Plessis-teater in die voorgrond, met die Provinsiale Regeringsgebou (voorheen die CR Swart-gebou) met die draairestaurant heel bo. FOTO: Verskaf

Ikoniese en historiese bates saam met ander staatsgeboue oor die Vrystaat heen moet tot voordeel van Vrystaatse inwoners aangewend word, sê Pretorius.

Daar is ook ander geboue benewens die Vierde Raadsaal wat dringend instandhouding nodig het.

Armand Cloete van die VF Plus sê erfenisdokumente wys dat die hele Pres. Brandstraat ‘n bewaringsgebied is wat aan dit amptelike bewaringstatus verleen.

Een van die talle geboue in die straat wat al vir jare in onbruik straat en beskadig is, is die voormalige Sinodale Gebou op die hoek van Pres. Brandstraat en St. Andrew-straat.

Skade aan die dak van die Sinodale Gebou op die hoek van Pres. Brandstraat en St. Andrewstraat. FOTO: Verskaf

“Dit vorm deel van Pres. Brandstraat se ‘historiese myl’. Die hele straat en sy geboue moet bewaar word eerder as om net aandag aan enkele geboue te gee,” sê Cloete.

“Dit lyk of die dak van die sinodegebou deur vandale beskadig is. Ons is nie seker wat die oorsaak van die skade is nie.”

Vandale het ook onlangs die besonderse beeldegroep op Pres. Hertzogplein, wat ook in Pres. Brandstraat oorkant die stadsaal geleë is, beskadig.

Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging, sê dit is die tweede keer dat skade aan dié standbeeld aangerig is. Die beeldegroep is in 1968 deur argitek Danie de Jager gemaak en is deur BJ Vorster onthul. Die beeldegroep simboliseer die Afrikaner wat uit die as opgestaan het.

Van Rensburg sê Pres. Brandstraat is in 1989 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Hy sê die straat met sy geskiedkundige sandsteengeboue wat die stadsaal, Appèlhof, Vierde Raadsaal, Sinodale Gebou en Ou Presidensie insluit, word deur talle argitekte as die mooiste straat in die wêreld beskou.

Laer af in Pres. Brandstraat is daar tog ‘n klein ligpuntjie. Die regering het ná volgehoue druk die geute van die Ou Presidensie vervang.

Netjiese nuwe geute is aangebring by die Ou Presidensie (‘n museum van die Vrystaatse Departement) wat verdere waterskade daar sal beperk. FOTO: Verskaf

Pretorius sê ná vele versoeke en skrywes oor veral die geute wat met gras toegegroei en stukkend was, het die departement die geute aan die gebou vervang.

“Tydens my toespraak in Erfenismaand in September het ek die uitvoerende gesag uitgedaag om raadsittings ook in ander historiese geboue te hou, maar ongelukkig is die meeste daarvan ook in ‘n slegte toestand.”

Pretorius sê hy het ‘n pleidooi gerig oor onderhoud by die geboue. Een van die positiewe uitkomste is die oprigting van nuwe naamborde by dié geboue soos die Ou Presidensie.

“Nog baie werk is nodig, maar ek vertrou die nuwe geute sal reeds verdere skade baie beperk.”

LEES OOK: Opknapping van Vrystaatse museums gevra

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article