Qian Möller en HJ Noeth van Jim Fouché se eerste rugbyspan verdedig hul doelgebied teen die span van die Hoërskool Fichardtpark.

In die derby tussen die twee groot Afrikaanse hoërskole in die suide van Bloemfontein, is kliphard meegeding in rugby, netbal en hokkie as deel van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks die afgelope week. Wedstryde is van 10 tot 12 April beslis, en Saterdag was al die wedstryde by die Hoërskool Jim Fouché (JF) – met tuisveldvoordeel vir dié spanne.

In die spanningsvolle wedstyd tussen JF en die Hoërskool Fichardtpark se eerste rugbyspanne, het Qian Möller in die 69ste minuut van die wedstryd oorgegaan vir die wendrie. Die eindtelling in dié wedstryd was 22 –13 vir JF.

Donavan Pretorius (met die bal) van die Hoërskool Jim Fouché (JF) se tweede span het ‘n groot aandeel in sy span se oorwinning van 26 – 19 teen dié van die Hoërskool Fichardtpark gehad. Foto: Ewette Menge Credit: Erwette Menge
Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks
Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks

Fichardtpark se jonger spanne het goed vertoon, met die o.14A-span wat sy wedstryd met 50 – 0 gewen het en die o.15A-span wat met 17 – 10 gewen het.

JF se eerste seunshokkiespan het met 6 – 2 gewen en verder het JF twee wedstryde gewen; twee verloor; en die o.16B-span het gelykop gespeel met 0 – 0. Die o.18B-span se wedstryd is eers ná druktyd Woensdag beslis.

JF se eerste meisieshokkiespan het Fichardtpark met 3 – 1 geklop. Een van die hoogtepunte in dié afdeling was JF se o.16A-span wat hul teenstanders met 8 – 0 getroef het. Fichardtpark se o.14B-span het met 3 – 0 gewen.

JF se eerste netbalspan het in ‘n spannende wedstryd net-net met 39 – 38 geseëvier. Die netbalspanne was baie gelyk, met JF wat sewe wedstryde gewen het en Fichardtpark ses.

Die seunshokkiespeler van die dag was Cobus Wilken van JF; die meisieshokkiespeler van die dag was Janien van Eeden (JF); die rugbyspeler van die dag was JC van Niekerk (JF); en twee meisies wat altwee die eer ontvang het as netbalspeler van die dag, is Niglynn Coetzee van JF en Maroné Coetzee van Fichardtpark.

Die volgende wedstryde in die stad in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks is die derby tussen die Hoërskool Sentraal en Fichardtpark, by Sentraal, op 24 April.

Donavan Pretorius (met die bal) van die Hoërskool Jim Fouché (JF) se tweede span het ‘n groot aandeel in sy span se oorwinning van 26 – 19 teen dié van die Hoërskool Fichardtpark gehad. Foto: Dirkie Groenewald

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article