Lede van die Megaforce-motorfietsklub in Bloemfontein het saamgekom om ‘n opgeboude wasmasjien aan Hospice Bloemfontein by die Siesta-aftreeoord te oorhandig.
Hanneke Lubbe, wat namens die hospies die wasmasjien ontvang het, sê dit is ‘n wonderlike voorbeeld van hoe die gemeenskap by die hospies betrokke is.
“Dit wys vir ons dat die gemeenskap omgee, en dit maak ons deel van die mense om ons.”
Talle van die sowat 12 lede wat Saterdag by die hospies was, het iemand geken wat hier was.

“Dit wys net hoeveel hierdie gerief vir die gemeenskap beteken,” sê Lubbe.
Sy sê daar is nou nege kamers hier vir Hospice Bloemfontein, met sowat 20 pasiënte wat maandeliks behandeling ontvang.
“Benewens die pasiënte hier, gaan vrywilligers en dokters uit na sowat 30 mense in die gemeenskap per maand.”
Lubbe sê die skenking van die wasmasjien is wonderlik.

“Tot nou toe het ons Siesta se wasmasjiene gebruik. Nou kan al ons linne en wasgoed apart gewas word. Dit moet in warmer water gewas word om aan vereistes vir infeksiebeheer te voldoen.”
Marius Wiese, Megaforce se president, het einde Januarie ‘n inligtingsessie by die Hospice-winkel by die Oorlogsmuseum bygewoon.
Hier het Lubbe en Phoebe Pretorius, wat dié winkels begin het, vir mense vertel hoe om by hospice betrokke te raak. Rig navrae aan Lubbe by 076 912 9490.






You must be logged in to post a comment.