BLOEMFONTEIN. ‘n Geliefde figuur in Suid-Afrika met ‘n groot passie vir die geskiedenis is Maandag 25 Augustus in Utrecht oorlede.
Nico Moolman (77) was veral in Bloemfontein bekend om sy groot werk om negatiewe van die Bloemfonteinse argief wat hy gedigitaliseer het en daarna teruggeskenk het aan die Argief wat tot die volkskennis bygedra het.
Deur sy Facebookblad het hy mense oor die wêreld heen laat deel in die ryk geskiedenis van Afrikaners met sy swart-en-wit foto’s en staaltjies uit die verlede.

In Utrecht, sy laaste tuiste die afgelope paar jare, het hy sy liefde vir geskiedenis, kultuur en Afrikana voluit geleef met sy Huismuseum Buskruit en Laventel waar besoekers vriende geword het.
Moolman het as skrywer sy stempel afgedruk met boeke soos Kuier in ’n plaaskombuis, Uit Ouma se Uitsetkist, Karrenmelk vir Ta Nonnie, Sij, Dankie Generaal, The Boer Whore, Pink traaisiekel en vele ander. Hy het sopas sy digbundel Amper daar voltooi en gefinaliseer vir druk. Sy pen het mense teruggevoer na vervloë tye, en hy het ’n besonderse bydrae gelewer om die verhale van ons geskiedenis – veral die Anglo-Boereoorlog – lewendig te hou.
Hy was ook een van die skrywers aan ‘n unieke boek oor Bloemfontein wat sy verskyning gaan maak en sal ook daarmee ‘n besonderse nalatenskap los.
Buite die bladsye van boeke was Nico ’n man met ’n groot nuuskierigheid oor die wêreld. Hy het dit geniet om nuwe plekke te verken, mense te ontmoet en ervarings op te doen wat sy perspektief verryk het. Sy gunsteling ontspanning was egter altyd langs die water, met ’n visstok in die hand – die eenvoudige vreugdes van stilte, natuur en geduld het hom diep vreugde gebring.
Hy is op 15 Januarie 1948 gebore en is op 25 Oktober 1970 met sy groot liefde, Naomi, getroud. Hulle het die afgelope 54 jaar ’n lewe van trou, liefde en avontuur gedeel.
Melanie Moolman, bestuurder van De Oude Kraal buite Bloemfontein, sê hy was ‘n wondelike pa vir hul vier kinders. Hy het hulle vermaak met unieke stories en staaltjies uit vanmeleë se dae.
Hy het sy loopbaan by Iscor in Vanderbijlpark gebou, maar dit was in sy latere jare na sy aftrede dat hy die ruimte gevind het om sy ware passies uit te leef.
“Ons onthou hom as iemand met ’n oop hart, ’n skerp verstand en ’n passie vir stories en mense. Sy erfenis leef voort – nie net in sy boeke nie, maar in die lewens wat hy aangeraak het,” sê Melanie.
Besonderhede oor sy begrafnis sal later bekend gemaak word.






You must be logged in to post a comment.