BLOEMFONEIN. Die derde brand in net meer as vyf jaar by die Dr. Blok Sekondêre Skool in Heidedal het die keer ‘n waskamer en pakkamer vernietig.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens, sê ‘n noodoproep is op Donderdag 7 Augustus om 19:29 ontvang. Hy sê die brandweer was 13 minute later op die toneel met twee brandweerwaens en tien brandweerpersoneel.
Hy het groot lof vir die samewerking van die Heidedal-buurtwag wat gehelp het om die kinders te ontruim en plek te maak vir die brandweervoertuie.
“Dit is wonderlik om te sien hoe ‘n gemeenskap gerat is om te help,” het hy ná die brand gesê.
Die privaat-brandweerdienste het ook hulp op die toneel verleen.
Van Zyl sê dit was ‘n asbes-gebou wat gebrand het en niemand is in die brand beseer nie.
Dié brand volg op ‘n vorige brand in Junie 2022 toe 56 leerlinge inderhaas uit die koshuis by dié skool ontruim moes word en hul klere en besittings in die brand vernietig is.
Op 11 Januarie 2019 is ‘n deel van die koshuis ook in ‘n brand verwoes.





