Nóg die Vrystaatse premier, Maqueen Letshoa-Mathae, nóg die LUR vir samewerkende regering, Saki Mokoena, kon ‘n geloofwaardige herstelplan bied om die vervalle munisipaliteite in die Vrystaat te red.
Só het VF Plus se woordvoerder Armand Cloete gesê na afloop van verlede week se oorsigbesoek deur die nasionale en provinsiale portefeulekomitees vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta). Tydens die verrigtinge het verteenwoordigers van 23 Vrystaatse munisipaliteite wat onderpresteer, oor twee dae voor die nasionale oorsigkomitee verskyn.
Hulle is gekonfronteer oor die regering gewortel in ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid en die sistemiese korrupsie en administratiewe agterlosigheid.

Dr. Zweli Mkhize, voorsitter van die nasionale Cogta-portefeuljekomitee, sê dieselfde probleme kom wydverspreid voor. Dit sluit in swak beheer oor verkryging, die verval van die geldelike stelsels, swak hulpbronbestuur en die agteruitgang van dienslewering. Hy sê die sigbare simptome van die wanfunksionele munisipaliteite sluit in slaggate, vullis wat nie verwyder word nie en riviere wat besoedel word.
Cloete sê die munisipale ouditverslae vir die 2023-’24- finansiële jaar dui op ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid, asook wanbestuur.
“Ander bevindings sluit in dat ondersoeke na finansiële ongerymdhede óf glad nie gedoen word nie óf jare lank sloer sonder afhandeling. Daar word selde, indien ooit, teen skuldige amptenare opgetree en munisipaliteite gaan bloot voort om openbare geld te wanbestee of te plunder,” sê hy.
“Daar is talle munisipaliteite wat jaar na jaar onbefondsde begrotings goedkeur ten spyte van waarskuwings dat dit op ‘n onrealistiese invorderingskoers gegrond is. Munisipaliteite se gesamentlike agterstallige skuld aan derdepartye soos pensioenfondse, die inkomstediens en die ouditeur-generaal (OG), beloop meer as R830 miljoen.
“Skuld aan die Vaal Sentraal-waterraad beloop meer as R10 miljard met geen duidelike plan om dit te vereffen nie.”
In ‘n verklaring kort voor die oorsig het die DA se woordvoerder oor Cogta in die Vrystaatse wetgewer, David Mc Kay, gesê die DA verwelkom die nasionale tesourie se plan om nasionale toelae van tien munisipaliteite in die Vrystaat wat swak presteer, te weerhou. Die munisipaliteite wat hierdeur geraak kan word is Letsemeng, Kopanong, Mohokare, Masilonyana, Matjhabeng, Nketoana, Maluti-a-Phofung, Phumelela, Ngwathe en Mafube.
Mkhize het gesê met die oorsigbesoek is ‘n keerpunt bereik.
“Van hier af gaan ons werk oor alle vlakke van regering om die regering te herstel sodat die publiek die dienste kry wat hulle verdien.”
Munisipaliteite sal voortaan kwartaalliks verslag moet doen van hul vordering om die OG se voorstelle toe te pas. Die verslae sal deur die provinsie gemoniteer en aan die parlement voorgelê word.
Mkhize sê oor ses maande gaan ‘n soortgelyke oorsigbesoek plaasvind om die munisipaliteite se vordering te monitor.
“Ons wil vordering sien teen die tyd dat die OG weer sy voorleggings moet maak.”
Munisipaliteite in die Vrystaat presteer die swakste in Suid-Afrika, met 16 munisipaliteite wat begrotings het wat nie befonds is nie wat tot meer as R4,2 miljard se ongemagtigde uitgawes bedra.
Na aanleiding van die komiteebesoek het Letsoha-Mathae Mkhize beloof om die verrotting uit te roei.
“Daar sal van burgemeesters, munisipale bestuurders, speakers en die hele leierskap van munisipaliteite verwag word om aan die uitvoerende raad rekenskap te gee. Mense ontvang salarisse met niks om daarvoor te wys nie, en daar kan nie van ons verwag word om stil te bly nie. Sommige mense wat ons munisipaliteite gelei het, was arrogant en hulle is nie tot verantwoording geroep is nie − hulle het min agting vir ons gemeenskappe gehad. Hul arrogansie het geen perke geken nie en gevolglik het dienste tot stilstand gekom en die lewensgehalte van inwoners het gedaal,” het Letsoha-Mathae gesê.





You must be logged in to post a comment.