Sowat 150 begrafnisgangers het by Ons Tuiste in die Westerbloem-aftreeoord roerend afskeid geneem van ‘n geliefde inwoner met Downsindroom wat verlede week oorlede is.
Johan Coetzer (44) wat saam met sy ma, Dollie, in dié sentrum gewoon het, is ‘n week gelede oorlede nadat hy in die hospitaal vir longontsteking behandel is.
Op sy begrafnis op Woensdag 5 November het brandweerbeamptes, wat destyds saam met Johantjie se pa, Boet, by die brandweer gewerk het, hulde gebring aan hierdie man “wat in sy hart ‘n brandweerman was.”

So vertel Hentie van Vuuren, ‘n brandweerbeampte by Mangaung-metro se sentrale brandweerstasie in Pres. Brandstraat. Hy en sy kollegas het hul handtekeninge op ‘n veiligheidshelm geteken wat op Johantjie se kis tydens die begrafnisdiens tussen blomme gerus het.
Johantjie se pa én oupa was brandweerbeamptes. “Toe ek destyds by die brandweer begin het, het die Coetzer-gesin in ‘n woonstel by die brandweerstasie gewoon,” vertel Van Vuuren. “Johantjie het gereeld saam met sy pa ‘kom werk’. Hy was baie lief vir die rooi brandweerwaens en het eindelose plesier geput uit die geloei van die sirenes,” vertel Van Vuuren. “Hy was een van die brandweer se grootste ambassadeurs.”
Ná die diens, het Van Vuuren die getekende veiligheidshelm aan tannie Dollie oorhandig.

Jeannette Geldenhuys-Smit, ‘n jarelange vriendin van Johantjie, het in haar huldeblyk op die begrafnis gesê: “Wanneer ‘n mens iemand aan die dood afstaan, verloor jy ‘n stukkie van jouself – daardie deel wat die persoon van jou na jou toe weerspieël het. Ek sal nooit Johantjie se gesiggie, sy glimlag en sy vreugde vergeet nie. Hy was altyd met ope arms gereed vir ‘n drukkie en ‘n soen.”
Geldenhuys-Smit het destyds voor oom Boet se dood, gereeld by die gesin in Andries Pretoriusstraat gekuier. “Hul huis was altyd ’n hawe – ’n plek waarheen almal, deur Johantjie, genooi was. Die bure het hulle omarm en geliefd laat voel. Ek het gehoor hoe goed die sentrum vir Johantjie en Dollie was toe hulle hierheen verhuis het.”
Ná die diens het die lykswa na die Bloemfonteinse hoofbrandweerstasie gery, verby die brandweerwaens waar die sirenes vir oulaas vir Johantjie geloei het.






You must be logged in to post a comment.