VrystaatKroon

Bek-en-klouseer bring Suid-Afrika se vleisbedryf in gedrang

,
Vrystaat Landbou (VL) het ’n dringende beroep op die regering oor die BKS-krisis om die nodig entstof onmiddellik in boere se hande te plaas om ‘n ramp te voorkom. FOTO: Madli Grobbelaar
Vrystaat Landbou (VL) het ’n dringende beroep op die regering oor die BKS-krisis om die nodig entstof onmiddellik in boere se hande te plaas om ‘n ramp te voorkom. FOTO: Madli Grobbelaar

Vrystaat Landbou (VL) het ’n dringende beroep op die regering gedoen om die staatsmonopolie op die hantering van die bek-en-klouseerkrisis (BKS) te beëindig en boere toe te laat om onmiddellik self diere in te ent. Volgens die organisasie dreig die voortgesette onbeheerde verspreiding van die siekte om die land se vleisbedryf op sy knieë te dwing.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê die huidige benadering is onvoldoende om die krisis te beheer.

“Ons moet dringend die staatsmonopolie oor die BKS-krisis breek sodat entstof onmiddellik in boere se hande geplaas kan word. Indien dit nie gebeur nie, word die hele land se vleisbedryf ernstig bedreig,” sê hy.

VL, wat sedert 1904 vir die volhoubaarheid van die landbousektor beywer, voer aan dat verskeie realiteite erken moet word om die krisis doeltreffend aan te spreek. Volgens die organisasie word BKS wel as ’n staatsbeheerde siekte geklassifiseer, maar daar is tans min tot geen werklike beheer oor die verspreiding daarvan nie. Bestaande protokolle en regulasies is ontwikkel vir ’n land met ’n BKS-vrye status – ’n status wat Suid-Afrika volgens VL reeds verloor het.

Die organisasie wys verder daarop dat die beperking van dierebeweging in praktyk nie effektief toegepas kan word nie en dat verhoogde biosekuriteitsmaatreëls tot dusver nie daarin geslaag het om die verspreiding van die virus te keer nie.

Volgens Friedl von Maltitz, vise-president van VL, kan boere nie langer bekostig om plase te sluit sonder ’n volhoubare oplossing nie.

“Ons moet dadelik begin inent. Die ekonomiese volhoubaarheid en voortbestaan van die veebedryf is in gedrang,” het hy gesê.

Wilken het verder beklemtoon dat boere nie vir langtermynplanne kan wag terwyl die siekte vinnig versprei nie. Hy het aangevoer dat die staat se huidige hantering van die krisis dui op ernstige tekortkominge in kapasiteit en stelsels. Hierdie bevindinge, sê hy, word bevestig in ’n verslag wat op 18 Mei 2022 deur die taakspan oor diere-biosekuriteit saamgestel is.

Die taakspan, aangestel deur die destydse minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het bevind dat Suid-Afrika tekortskiet in die monitering van die ontwikkeling van dieresiektes, die tydige diagnose daarvan, asook die implementering van realistiese en wetenskaplik gefundeerde biosekuriteitsmaatreëls.

VL is van mening dat die staat nie oor die vermoë beskik om ’n grootskaalse nasionale inentingsprogram doeltreffend uit te rol nie. Die organisasie verwys ook na die hantering van die Covid-19-pandemie as voorbeeld van die risiko’s verbonde aan staatsbeheer, waar beduidende bedrae geld verlore gegaan het weens korrupsie en wanbestuur.

Gevolglik doen Vrystaat Landbou ’n beroep op die regering om die onmiddellike invoer van geskikte BKS-entstowwe deur privaat instansies toe te laat en om dit sonder verwyl aan boere beskikbaar te stel vir aankoop en toediening.

“Tyd vir praat is verby. Boere het nie meer weke of maande om te wag nie,” het Wilken gesê. “Daar moet nou opgetree word.”

VL doen ‘n ernstige beroep vir samewerking en eenheid binne die landbousektor om die krisis dringend te beëindig en die vernietigende impak van die virus te beperk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article