Aspoestertjie en haar vriende maak amok in Rabbit-atlejee.

As jy gedink het jy ken die verhaal van Aspoestertjie (Cinderella), dan het jy nog nie gesien wat Xander Steyn opdis nie.

Soos altyd is The Rabbit-teaterskool se produksies propvol interessante karakters wat die ou feeverhaal inkleur en die gehoor met ‘n unieke storielyn verras.

Steyn, skrywer en regisseur, sê dat hierdie produksie propvol plaaslike talent is. Jené Heymans, mede-regisseur, stem saam: “Die Bloemfonteiners verbaas ons altyd met hulle talente, veral omdat dit nie professionele akteurs is nie, maar mense wat dit as stokperdjie beoefen ná werk. Dit is gemeenskapsteater op sy beste.”

Volwasse akteurs in Xander Steyn se Cinderella is van links Gooley Gnome (Keila van Vuuren), Cinderella (Khaila Mo), Gabby Gnome (Lehzé Niewoudt) en Gippy Gnome (Jalene van Niekerk). FOTO: Lientjie Mentz

Pinocchio het verdwaal en bevind hom in die verhaal saam met Grandpa Greyclock – ‘n baie wyse ou horlosie wat die storie-verteller is.

In hierdie weergawe van Cinderella is daar twee fairy godmothers – ‘n goeie en ‘n slegte een. Gwenyth the Good en Bellatrix the bad.

Gwenyth het vir Ella (Cinderella) drie wonder towerdwergies gegee toe sy gebore is om haar op te pas en te beskerm. Bellatrix het vir haar ‘n snaakse klein vlermuis-mannetjie gegee – Batman.

Die lawwe Batman het altyd vir Ella gebyt as sy te naby gekom het en Ella moes toe ‘n hondsdolheid-inspuiting kry wat haar onwillekeurige stuiptrekkings gee.

Natat Ella se pa dood is, bevind sy haar alleen saam met haar stiefma en nuwe stiefsussies. Hierdie stief-familie is al die pad van Rusland af en behandel Ella soos ‘n slaaf in die huis.

Ná ‘n lang dag se werk en met ‘n kettingsaag in die hand staan Ella in die bos waar sy ‘n boom afsaag toe sy die prins ontmoet. Dit is liefde met eerste oogopslag, oftewel met eerste amperse fratsongeluk.

Met die hulp van haar Gwenyth the Good kom sy uiteindelik by die bal uit en verloor haar glasskoen op pad uit. Die prins beveel dat al die alleenlopende vroue die skoen moet aanpas en die soektog na die prins se groot liefde begin.

The Rabbit-teaterskool het studente van 5 tot 70 jaar en almal is welkom.

Daar word in groepe met die studente gewerk en elkeen kry ‘n rol in twee produksies ‘n jaar.

In 2026 is Alice in Wonderland eerste in Junie en dan Sleeping Beauty in November. As jy meer wil uitvind, stuur ‘n e-pos na theatre@rabbithouse.co.za.

Die hoërskoolgroep se eerste optrede van Cinderella is Vrydag 21 November om 19:00 en dit kos R80. Saterdag 22 November om 16:00 is die eerste laerskoolgroep aan die beurt en groep 2 se vertoning is om 19:00. Die kaartjies kos R60. Die tweede hoërskoolgroep se vertoning is Sondag 23 November 16:00 (R80).

Die hoofvertonings met die volwasse akteurs begin Donderdag 27 November om 19:00. Vrydag 28 November se vertoning is om 19:00 en op Saterdag 29 November is daar twee vertonings om 16:00 en 19:00. Kaartjies vir die hoofvertoning kos R100 en is beskikbaar op www.rabbithouse.co.za/events.

Sitplekke is onbespreek en kinders 2 jaar en jonger se toegang is gratis, maar hulle moet op ‘n ouer se skoot sit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article