So saam met die viering van Afrikaans Amptelik 100 Jaar, word daar ‘n spesiale konsert so eg uit die Federasie vir die Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) se sangboek aangebied.
Hettie Gouws, oud-onderwyseres wat op die rype ouderdom van 87 jaar steeds musieklesse gee en self begeleiding in die konsert gaan doen, sê die program op 16 Augustus is ‘n droom wat al die afgelope vier jaar saam met haar kom.
“Vandat ek vier jaar gelede hier na Westerbloem toe getrek het, wil ek al só ‘n fees aanbied met van die wonderlike liedjies uit die FAk se sangboek.”
Die program met 36 items kom alles uit die 1937- en 1963-weergawes van die FAK.

Die konsert Uit vergange se dae met die FAK is ‘n ode aan dié taal wat vanjaar 100 jaar ‘n amptelike taal in Suid-Afrika is.
“O Moedertaal, o soetste taal. Jou het ek lief bo alles.”
Gouws kan nie uitgepraat raak oor hoe pragtig die liedjies se woorde is nie. Die kerkkoor van die NG kerk Aandbloem sowel as talle soliste gaan bekende en ook minder bekende liedjies uit die sangbundel sing.
Benewens die koor wat sing, gaan die gehoor self ook lekker saamsing.
Van die liedjies in die program sluit in die “Magaliesburgse aandlied,” “Liewe Maan,” “Bosveld-huisie” en die oulike “Die Afrikaanse Pop” wat die manne gaan sing.
Van die soliste sluit in Hennie van Aswegen, Joe van der Merwe, ds. Charles Michell, ds. Christo en Liesbeth Louw, Nico van Heerden asook Hanlie Swart al die pad van Victoria-Wes.
Gouws, op haar dag ‘n onderwyseres wat later onderwysadviseur geword het, het in vroeë jare self groot sangfeeste gereël.
In haar tyd as onderwysadvisieur vir musiek, het sowat 96 skole onder haar geval. Sy het in Ladybrand ‘n sangfees gereel waarby 680 kinders betrokke was en later weer een op Senekal.
“Ek is so dankbaar vir my Godgegewe talent. Ek glo ek moet dit met my medemens deel. Dit is deel van die rede waarom ek hierdie fees reël.”
Wat die keuse van liedere betref, sê sy dit is musiek waarmee sy grootgeword het.
Sy onthou hoe sy in Sub-B “Met ‘n mandjie rose” gesing het.
” ‘n Lied soos ‘Rein soos lenteblomme’ het ek in st.9 gesing. Ek en ds. Dawie Botes van Excelsior het die lied gesing en daarna moes ons dit gereeld weer sing.”
Uit vergange se dae met die FAK word Saterdag 16 Augustus om 14:30 in Westerbloem se saal aangebied.
“Ek sien ontsettend uit hierna,” sê Gouws. “Dit is ‘n uitdaging, maar ek glo die Here gaan vir ons seën in hierdie poging om Afrikaans te vier.”
Daar is geen toegang by die konsert op 16 Augustus nie, maar ‘n sagte kollekte word opgeneem om die onkostes te dek.






You must be logged in to post a comment.