Skuilings op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.
Skuilings op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.

Al vir meer as ‘n dekade doen AfriForum gereelde oudits van vullisterreine oor Suid-Afrika heen en al word die tekortkominge van die Bloemfonteinse vullistereine gereeld uitgewys, is daar min verbetering.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein sê dié organisasie het in ‘n brief aan die Mangaung-metro gevra dat daar dringende ingryping is om veiligheidsrisiko’s by die noordelike en suidelike vullisterreine uit die weg te ruim.

Ongeag talle aksies wat al geneem is om onwettige inwoners op die noordelike en suidelike stortingsterrein te verwyder, duur dié situasie voort. FOTO: AfriForum

Dit volg op twee strafregtelike sake wat die organisasie reeds in September 2025 teen die metro aanhangig gemaak het weens hul versuim om die vereiste standaarde by die noordelike en suidelike vullisterreine in Bloemfontein te handhaaf. 

In ’n skrywe aan Sello More, stadsbestuurder vir die Mangaung-metro, waarsku AfriForum dat die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine ’n ernstige veiligheidsrisiko vir omliggende residensiële gemeenskappe inhou. Ten spyte van verskeie veiligheidsoperasies wat reeds uitgevoer is om onwettige bewoners van die terreine te verwyder, blyk dit dat die situasie grootliks onveranderd bly.

More het herwinnaars genooi om hulle voor 6 Maart te registreer. Dit was slegs vir bestaande herwinnaars en nie vir nuwe herwinnaars nie. In die skrywe word gesê herwinnaars word verbied om in die stortingsterreine te slaap of strukture daarin op te rig.

AfriForum meen dat die metro se onlangse mediaverklaring – waarin aangedui word dat herwinners ’n proses moet volg om te registreer alvorens hulle op die terreine kan werk – nie die kern van die probleem oplos nie. “Hoewel administratiewe regulering van herwinning bepaalde voordele kan inhou, los dit nie die probleem van onwettige bewoning van munisipale eiendom en die gepaardgaande misdadige aktiwiteite op nie,” sê Groenewald.

Die organisasie betwis ook die metro se ontkenning dat georganiseerde bendes, soos die sogenaamde Born to Kill (BTK)-bende, op die vullisterreine teenwoordig is. Tydens verskeie veiligheidsoperasies is verskeie onwettige bewoners gëidentifiseer wat glo bande met georganiseerde misdaadstrukture het.

LEES OOK: AfriForum stuur brief aan metro oor Mangaung se vervalle stortingsterreine

Groenewald sê in omliggende woonbuurte was daar verskeie voorvalle van huisinbrake, verdagte persone en ander misdadige aktiwiteite aangemeld. In verskeie gevalle waar in hegtenimings gemaak is of verdagtes ondervra is, het dit geblyk dat sommige van hulle bande met die BTK-bende het.

“Ons kan nie toelaat dat munisipale infrastruktuur ‘n toevlugsoord vir misdadige elemente word nie.

“Die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine stel omliggende gemeenskappe aan ernstige risiko bloot en ondermyn wetstoepassingspogings. Die metro moet dringend optree om hierdie terreine behoorlik te beveilig en die onwettige besetting daarvan te beëindig,” sê Groenewald.

AfriForum het die Mangaung-metro versoek om dringend strenger toegangsbeheer en sekuriteitsmaatreëls by albei vullisterreine in te stel, alle onwettige bewoners te verwyder en saam met wetstoepassingsowerhede op te tree teen die teenwoordigheid van georganiseerde misdadige elemente.

Die organisasie het ook versoek dat die kantoor van die stadsbestuurder binne tien werksdae ná ontvangs van die skrywe skriftelike terugvoer verskaf oor die stappe wat die metro beplan om te doen om die kwessie op te los.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article