Verdagte dief op heterdaad betrap by kwekery in Bloemfontein

,
Verdagtes in kringtelevisie-videos van Greenside-kwekery.
Verdagtes in kringtelevisie-videos van Greenside-kwekery.

BLOEMFONTEIN – ‘n Verdagte winkeldief is Sondag om 16:20 by die Greenside-kwekery deur personeel en veiligheidspersoneel aangekeer.

Marius Annandale van Greenside, sê die in hegtenisneming van die verdagte vrou volg op nog twee verdagte mans wat op 14 Februarie in hegtenis geneem is.

“Ons hou reeds die afgelope twee maande sewe verdagtes op ons kringtelevisie dop. Ons vermoed die twee gevalle hou met mekaar verband. Hulle volg dieselfde modus operandi – die een is op die telefoon terwyl die ander na duur saad of gereedskap kyk,” vertel hy.

In ‘n Facebookinskrywing het Greenside kliënte wat Sondag tydens die voorval by die kwekery was, om verskoning gevra vir die ontwrigting.

“Die betrokke persoon is in hegtenis geneem nadat sy betrap is dat sy gesteel het. Ongelukkig is hierdie voorval nie ‘n alleenstaande voorval nie. Oor die afgelope twee maande het Greenside verskeie gevalle van diefstal ervaar,” lui in die inskrywing.

“Deur ons interne monitering en samewerking met die owerhede, kon ons verskeie individue positief identifiseer wat na bewering betrokke is. Sommige van die verdagtes is reeds in hegtenis geneem.”

Annandale sê deur die foto’s van sewe verdagtes te publiseer, wil hulle deursigtig met die gemeenskap wees en ook bewustheid skep.

“Ons hoop dat dit ander plaaslike ondernemings sal help om waaksaam te bly en moontlik sal verhoed dat hierdie individue hul aktiwiteite elders voortsit.”

Hy sê met die in hegtenisneming in Februarie, is dieselfde twee verdagtes ook verbind met diefstal by die Local Choice-apteek en De Jagers-klerewinkel by The Towers-winkelsentrum in Langenhovenpark.

“Ons het rede om te glo dat hierdie individue ondernemings oor Bloemfontein heen – maar veral in en rondom Langenhovenpark – teiken.”

Sake van diefstal is by die Bainsvlei-polisiekantoor oopgemaak.

Lees ook meer oor die suksesse van die Vrystaatse polisie hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article