Kettieskiet kan moontlik vanjaar nog as ‘n nasionale sportsoort geregistreer word.
Die Vrystaat het die voortou geneem in die groei van dié sportsoort, met die registrasie van die Mangaung-streek by die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc).

Henk le Roux, vise-president van die Mangaung-streek, sê kettieskiet is een van die sportsoorte wat die vinnigste in Suid-Afrika groei.
Dit is duidelik dat dit gevorder het van jong kinders wat graag met ‘n selfgemaakte wapen speel, tot ‘n ernstig mededingende sportsoort, dít in enkele jare.
Terwyl kettieskiet reeds amptelik die sportsoort van Die Voortrekkers is, groei deelname flink in Bloemfontein.
Die Landsdiensklub aan die Hoërskool Jim Fouché (JF), die JF-Koringare, het op Saterdag 21 Februarie ‘n eerste amptelike kennismaking met kettieskiet gehad.
Le Roux en Conrad Botha, ‘n gr.12-leerling aan JF, het gehelp om die Landsdienslede touwys te maak.
Conrad was in 2024 die Suid-Afrikaanse skolekampioen in kettieskiet en was in Februarie 2025 die Vrystaatse hoërskole-kampioen.

Tharina Annandale, sekretaris van die Koringare, sê die klublede het die oggend geniet.
“Ons het die naweek gekamp en verskillende aktiwiteite gedoen, waarvan kettieskiet een was. Die kinders was mal daaroor,” vertel sy.
Die eerste kampioenskap vir die jaar vind op 9 Mei plaas.
Rig navrae oor die sportsoort aan Le Roux by 065 960 4172 of skakel Tharina by 079 115 5147 om meer uit te vind oor Landsdiens.






You must be logged in to post a comment.