Bloemfonteinse talentvolle atleet Arina Nicolaisen (25) sien uit na die jaar wat voorlê en hoop om vanjaar vir die Statebondspele in Skotland te kwalifiseer.
Sy het pas teruggekeer van Doebai waar sy wat van 10 tot 13 Februarie aan die 17de Fazza internasionale para-kampioenskappe deelgeneem het.

Nicolaison, wat in 2019 op die Wêreld Para-atletiek junior-kampioenskap in Switserland die rekord in die 800m (T38) verbeter het, is ná ‘n ruskans die afgelope twee jaar terug by internasionale byeenkomste.
“Ek het my fokus geskuif van middelafstande na kortafstande en ons werk hard vir die byeenkomste wat voorlê.”
Op die Doebai Para-atletiek Grand Prix het sy vierde gekom in die 200m, maar in die proses haar persoonlike beste tyd verbeter deur die afstand in 0.30:58 af te lê. Volgens Raza-punte was sy sesde.
In die 400m het sy derde gekom, maar met die Raza-punte volgens haar kwalifikasie, was sy eerste. Haar tyd was 01:07:82.
Sy word deur Steven Swart afgerig. Hulle oefen nou vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Spele vir mense met Gestremdhede (SASAPD) wat van 29 tot 31 Maart in Stellenbosch plaasvind.
Sy volg in die voetspore van haar pa, Anton Nicolaisen, wat ‘n wêreldrekordhouer en Suid-Afrikaanse kampioen in die junior 3000m-hinderniswedloop was.






You must be logged in to post a comment.