Lede van die span agter Moses – Geroep! is van links Jaco Bezuidenhout (musiekregisseur), CW Laten, Nic Beukes (albei skrywers) en Peter Taljaard (regisseur). FOTO: Lientjie Mentz

‘n Unieke Passiespel kom binnekort op die verhoog in Bloemfontein danksy die jarelange idee van twee gesoute akteurs van die ATKV-tak Gemeenskapsteater.

Moses – Geroep! is ‘n oorspronklike teks geskryf deur CW Laten en Nic Beukes.

“Ons het al die idee sedert 2013 en was mal oor die rolprent Prince of Egypt,” sê Laten.

“Die stuk handel oor die menslike kant van die verhaal van Moses en sy broer Ramses van Egipte. Die broers was naby aan mekaar. Nadat God met Moses in die doringbos gepraat het, het daar groot skeuring tussen die twee broers gekom.”

Hierdie konflik tussen die broers vorm die middelpunt van ‘n nuwe perspektief op die verhaal van Moses wat sy volk uit Egipte sou lei.

“Ons haal met die verhaal die vergrootglas uit en fokus op die karakters,” verduidelik Beukes.

Die professionele, bekroonde akteur Peter Taljaard is die regisseur van die stuk, en die akteur Anneri Bosman staan hom by as mede-regisseur.

Met die storie so deel van hulle, is dit net gepas dat Laten die rol van Ramses speel en Beukes dié van Moses.

Hulle vorm deel van ‘n toneelgeselskap van 60 amateur-akteurs wat in die stuk te sien is.

“Dit is goed dat ons so ‘n groot groep is,” sê Beukes. “Die twee volke, die Egiptenare en die Jode, word in die stuk ook karakters wat uitgebeeld moet word.”

Jaco Bezuidenhout, bekende musiekvervaardiger van die stad, is die musiekregisseur.

Moses – Geroep! word op Vrydag 20 Maart en Saterdag 21 Maart in die Sand du Plessis-teater opgevoer, albei aande om 19:00. Kaartjies kos van R100 tot R150 en is op webtickets.co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article