Twee van Bloemfontein se top-pluimbalspelers, Nita Scholtz-Albertse en Caden Kakora, is pas terug uit Europa waar hulle hulself voorberei het vir die kampioenskappe wat voorlê.
Dit is belangrik dat hulle hul jaar goed begin op die Afrika-kampioenskapstoernooi wat van Maandag 9 Februarie tot 15 Februarie in Botswana gespeel word.
Dit is ‘n belangrike toernooi, en saam met nog ‘n Bloemfonteiner, Elme de Villiers, as kaptein van die span, besef hulle die verantwoordelikheid wat op hul skouers rus.

Ná die Olimpiese Spele in 2024 het afrigters besluit dat die topspelers nie verlede jaar aan baie internasionale toernooie sou deelneem nie. Hulle het eerder daarop gefokus om die spelers se tegniese en taktiese vaardigheid te verbeter.
Die spelers het in 2025 meer geoefen as toernooie gespeel, en teen die einde van 2025 het ‘n proses begin om aan verskeie Afrika-toernooie en aan kampe met tegniese afrigters deel te neem.
In Desember het verskeie spelers in Maleisië gaan oefen. Kakora en Scholtz-Albertse het begin Januarie vertrek om teen die bestes in Europa te gaan speel in Estland, Swede en Ysland se internasionale toernooie.
De Villiers kon nie saam toer nie, maar sy het hard by die Nasionale Sentrum in Bloemfontein geoefen.
Die afrigtingspan is baie tevrede met die uitstekende groei wat Kakora en Scholtz-Albertse in die afgelope tyd getoon het.
Die uiteindelike afronding vir die Afrika-kampioenskaps-toernooi in Februarie word nou gedoen.






You must be logged in to post a comment.