Salomé Janse van Rensburg
Salomé Janse van Rensburg FOTO: Verskaf

Dit is nie net kinders wat deur Kersvader bederf word hierdie Kersfees nie.

Salomé Janse van Rensburg van die Santé-aftreeoord in Heliconhoogte, Bloemfontein, sê sy het die posbus in Northridge Mall gesien waar inkopiegangers genooi word om briefies aan Kersvader te stuur.

“Ek het gedink ek wil ook vir hom ‘n briefie stuur. Ek onthou toe ‘n foto van myself op Kersvader se skoot wat ‘n goeie 70 jaar gelede in ‘n winkelsentrum in Bloemfontein geneem is. Ek het die foto gesoek en dit, met ‘n meer onlangse foto van myself, by die brief aan Kersvader ingesluit,” vertel sy.

Die foto van Salomé as drie- of vierjarige saam met Kersvader. Die foto is sowat 70 jaar gelede geneem.
Die foto van Salomé as drie- of vierjarige saam met Kersvader in ‘n winkelsentrum in Bloemfontein sowat 70 jaar gelede.

“Net vir die grap vra ek toe vir Kersvader of hy homself op die foto herken,” vertel sy laggend.

“Groot was my verbasing toe ek ‘n oproep kry om te sê dat my brief uit duisende inskrywings een van die wenners was. Ek het regtig net ingeskryf om ‘n bietjie pret te verskaf vir die mense wat die briefies lees en mense se drome waar maak.”

Sy kon vir haarself ‘n geskenk kies en het besluit op ‘n lekker bottel parfuum.

“Dit wys jou net. ‘n Briefie aan Kersvader kan selfs vir ‘n pensioentrekker se drome waar maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article