Wanneer die plaaslike sakegemeenskap saamstaan, gebeur daar wonderwerke. Dit was duidelik tydens Dinamiese Netwerk Bemarking (DNB) se jaarlikse gholfdag op 16 Oktober, waar die groep se omgee-harte twee mense se lewens positief geraak het.
Een van vanjaar se begunstigdes is Gert Castleman (55), ’n geliefde DNB-lid wat onlangs sy linkerbeen in ’n motorfietsongeluk verloor het. Gert en sy vrou, Esmé, was op Saterdag 27 September op pad van Kimberley terug Bloemfontein toe ná ’n motorfietssaamtrek, toe ’n motor hulle omstreeks 15:30 tref.
“Ek het dadelik geweet iets ergs het gebeur – my been was weg,” vertel Gert eerlik. “’n Vriend wat agter ons gery het, het alles gesien en onmiddellik hulp ontbied.”
Hy is na Mediclinic Gariep in Kimberley geneem waar hy gestabiliseer is, en daarna oorgeplaas na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal vir die amputasie.
“Die dokters is tevrede met my herstel,” sê hy kalm. “Ek moet nog ’n veloorplanting ondergaan voordat ek ’n prostese kan kry – gelukkig is die amputasie onder my knie gedoen.”
Hoewel die pad vorentoe lank is, sê Gert hy is oorweldig deur DNB se ondersteuning.
DNB is soos familie. Ek kon nie die gholfdag bywoon nie, maar het aanlyn saamgekyk. Ek was diep geraak. Daar is nog mense wat opreg vir mekaar omgee – en dit gee my hoop.

Die tweede begunstigde is ’n jong vrou wat haar LLB-graad by Akademia voltooi. Sy ontvang vir die tweede jaar hulp uit die Solidariteit DNB Studiefonds, wat studente met rentevrye lenings bystaan.
Ek is ongelooflik dankbaar vir die kans om my studies voort te sit. Sonder hierdie ondersteuning sou dit byna onmoontlik gewees het om akademies aan te hou groei.
Marli Buys van Solidariteit Helpende Hand het op 23 Oktober ’n skenking van R40 000 namens die fonds in ontvangs geneem.
Volgens Buys maak die studiefonds landwyd dit moontlik vir sowat 1 100 studente om met rentevrye lenings ter waarde van R61 miljoen te studeer.
“DNB se bydrae word in ’n aparte rekening gehou,” verduidelik sy. “Hulle kies self jaarliks ’n student om te ondersteun – dit wys die groep se betrokkenheid by hul gemeenskap.”
Lilian Zaaiman van DNB sê die groep is trots daarop om nie net besigheid te bevorder nie, maar ook om mense se lewens aan te raak.
“Ons doen wat ons doen omdat ons glo in die krag van saamstaan. Gert se prostese-fonds en die studentehulpprogram is bewys dat ons netwerk nie net oor sake gaan nie – dit gaan oor mense.”






You must be logged in to post a comment.