Refentse is die gaskunstenaar op vanjaar se Carols with the Stars. Foto: Verskaf

‘n Splinternuwe Toyota Vitz 1.0 MT is op die spel vir een klant van Pick n Pay Preller Walk wat R300 of meer spandeer en Carols with the Stars op Vrydag 14 November bywoon.
Klante het tot 13 November tyd om hul inkopies hier te doen; hul inligting (naam en van, ID-nommer en selfoonnommer) agterop die strokie te skryf; en dit in die gemerkte houers by die winkel te gooi.

Vanjaar se Carols with the Stars beloof om ‘n onvergeetlike aand te bied, met die gewilde Afrikaanse sanger Refentse op die verhoog.
Hy het in Junie sy nuutste liedjie, “Nykie”, bekend gestel. Die liedjie, geskryf deur Don Kelly, Stephan van Huyssteen, Fran-zel van Huyssteen en Refentse, het ‘n lekker storie wat met woorde en melodie toor.

Hugo Ludik van Muse Productions het die liedjie vervaardig met ‘n vars klank vir Refentse, wat beloof om enigeen wat luister te vat van ‘n Ierse kroeg tot die dansvloer vir ‘n sokkie.
Refentse se liedjies wat reeds bekendheid verwerf het, sluit in “Rig jou oë na die berge”, “Reisiger” en “Anoret”.

Die splinternuwe Toyota Vitz 1.0 MT wat vanjaar op Carols with the Stars gewen kan word. FOTO: Lientjie Mentz

Ná sy vertoning op die aand van Carols with the Stars gaan Cèzanne Yzel en Mario Lategan die voorsang lei van die bekendste Kersfeesliedjies wat die gehoor kan saamsing.

Carols with the Stars word weer vanjaar op die Laerskool Willem Postma se sportvelde aangebied. Toegang kos R10 per persoon; en al die geld wat ingesamel word, gaan vir liefdadigheid geskenk word.
Voor die vertoning sal daar van die middag 13:00 af ‘n buitelug-mark wees. Die Carols with the Stars-vertoning begin om 19:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article