BLOEMFONTEIN. Groot nasionale eer het die die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein te beurt geval toe die produksie Vyf op Donderdag 25 September in Pretoria as die wenner van die FAK Allegretto-toneelfees aangewys is.
Dit beteken dat Vyf die beste uit 168 produksies was. Dit is boonop as beste komedie en beste ensemble aangewys.
Benewens dié sukses het Oranje met dieselfde produksie ook na die nasionale ronde van ATKV Tienertoneel deurgedring, wat in Oktober in die Kaap beslis sal word. Hiervoor het Vyf die ATKV Tienertoneel-streekfees gewen, en dit was die vierde jaar agtereenvolgens dat Oranje se toneelgroep die beste produksie hier lewer.
Die spelers Miana Fourie en Danaé du Plessis, tegnici Kaylin Maartens, Mila Barratt en Abigail Dicks en regisseurs Chanmari Erasmus en Lynmari Brink is almal vir eerbewyse op nasionale vlak benoem.
Hierbenewens is Caitlin Erasmus as die beste aktrise in ‘n hoofrol gekroon. Miné Truter het die eerbewys ontvang vir die beste byrol in ‘n komedie.
Met die aanwys van Vyf as Allegretto-wenner, kry dié toneelgroep die geleentheid om volgende jaar ‘n week lank op die Oppiwater-kunstefees op te tree, wat met ‘n luukse skeepsreis op die MSC Opera aangebied word.

Sukses gewortel in respek, hegte vriendskappe en die genot om talente te vier
Carien Fourie skryf op Oranje se sosialemediaplatforms dat Erasmus, drama-onderwyser by Oranje en ook regisseur van Vyf saam met Brink, vertel dié toneelstuk het vanself ontwikkel.
Die produksie is ‘n voorbeeld van arm-teater (“poor theatre”); daar word nie kostuums of dekor gebruik nie sodat juis meer klem op die toneelspel geplaas word.
Dikwels word in tienertoneel van kru taal gebruik gemaak om ‘n bydrae te lewer tot die toepaslikheid van die teikengroep en die konteks van die opvoering.
“Ons is sensitief teenoor kru taal in optredes. Daarom probeer ons om kru woorde te vervang sonder dat die trefkrag verlore gaan. Konteks is van uiterse belang in elke toneel,” sê Erasmus.
Die karakters word as menslik en realisties beskryf. Hulle wissel van gr. 8 tot gr. 12 en sluit in netbal-mammas en vreemde karakters wat vir humor verantwoordelik is, skryf Fourie.
Erasmus kon dié uitbeelding met die hulp van streng stereotipes uitbeeld. Sy glo dat die groep se sukses gewortel is in hul respek vir mekaar, hegte vriendskappe en die genot om mekaar se talente te vier.
Verdere pluimpies vir Vyf
Kort voor die ATKV Tienertoneel-streekfees het die toneelgroep van Oranje deelgeneem aan die Montagu-jeugtoneelfees, wat in Augustus aangebied is. Uit 22 produksies het Vyf pryse ontvang vir beste teks, beste regisseur, beste ensemble, beste ondersteunende aktrise (Caitlin Erasmus) en beste produksie.
Op die streekfees in September is Vyf is as die beste produksie aangewys, met pryse ook uitgedeel vir die beste regisseur (uit 31 deelnemers), beste ensemble, beste regisseur (Brink en Erasmus) en beste aktrisie (Caitlin Erasmus).
Die produksie het ook die volgende eerbewyse gekry:
- cum laude (die hoogste eerbewys) vir ensemble-spel: Miné Truter, Kayla Hogewind, Danaé du Plessis, Miana Fourie en Caitlin Erasmus;
- cum laude vir spel: Caitlin Erasmus;
- goud vir produksie: Vyf;
- goud vir spel: Miana Fourie, Danaé du Plessis, Miné Truter en Kayla Hogewind;
- goud vir teks: Chanmari Erasmus;
- goud vir regie: Chanmari Erasmus en Lynmari Brink;
- goud vir verhoogbestuurder: Mila Barrat;
- goud vir klankoperateur: Abigail Dicks (benoeming as beste); en
- goud vir beligtingsoperateur: Kaylin Maartens.
Nog ‘n Bloemfonteinse skool presteer op die planke
Die toneelgroep van die Hoërskool Jim Fouché het ook in die nasionale ronde van Allegretto presteer met Wanneer die wind draai. Dian van Wyk is as die mees belowende speler benoem en aangewys.
Ander benoemings sluit in:
- Stella Nortier en Eduan Wolfe is benoem vir beste klanksamestelling;
- Hanro Snyman is benoem as beste klankoperateur;
- Stella Nortier is benoem vir beste stel-inkleding, asook beste spesiale effekte; en
- Kaylee Coetzee is benoem as beste vroulike speler (drama) in ‘n hoofrol.
Wanneer die wind draai is aan die begin van Augustus op die Logan-toneelfees in Fraserburg boonop met die volgende eerbewyse beloon:
- Stella Nortier – brons vir regie;
- Izette Blignaut en Stella Nortier – brons as dramaturge;
- Eduan Wolfe en Stella Nortier – brons vir klankontwerp;
- Stella Nortier – silwer vir beligtingontwerp;
- Stella Nortier – silwer vir dekor;
- Danielle Nortier en Stella Nortier – brons vir kostuumontwerp;
- Kaylee Coetzee – silwer vir toneelspel; en
- Dian van Wyk – silwer vir toneelspel.
Die groep het ook vir samespel silwer ontvang.






You must be logged in to post a comment.