Een van die land se toernooie waartydens van Suid-Afrika se beste pluimbaltalent te sien sal wees, vind in Oktober in Bloemfontein plaas.
Die Melville 2025 word van 11 tot 18 Okober by die Fichardtpark-pluimbalklub gespeel, met die eindstryd wat in die Mimosa Mall gespeel gaan word.
Johan Kleingeld, nasionale afrigter en organiseerder van die toernooi, sê dit is meer as ‘n toernooi, dit is ‘n veldtog om pluimbal as nasionale sportsoort in die kollig te plaas.

Die toernooi beloof om ‘n hoogtepunt vir sport in Bloemfontein te wees − met die kombinasie van tradisie, talent en transformasie in dié sportsoort.
Daar is prysgeld van R33 000 op die spel en elite-spelers van oor die land heen sal in die toernooi in aksie gesien kan word.
Van die spelers wat aan die toernooi gaan deelneem, sluit die Olimpiese speler Nita Scholtz-Albertse in, asook ander nasionale sterre en provinsiale spelers wat uitblink.
Juis om dit meer toeganklik vir die publiek te maak, gaan die eindstryde in die Mimosa Mall beslis word.
Toegang tot dié opwindende wedstryde is gratis.
Amy Ackerman van die Oos-Kaap sê die Melville 2025 gaan meer mededingend as ooit wees.
“Spelers oefen baie hard omdat hulle weet daar is meer as net ‘n titel op die spel − dit is ‘n platform vir spelers.”
Die publiek kan ook al die wedstryde wat van 11 Oktober by die Fichardtpark-pluimbalklub gespeel word, bywoon.
■ Hou BloemNuus dop vir meer inligting oor hierdie opwindende toernooi.






You must be logged in to post a comment.