Jared McIntyre (regs) in aksie in rolstoelrugby. Foto: Verskaf

Die Bloemfonteiner Jared McIntyre is ingesluit in die Suid-Afrikaanse rolstoelrugby-span wat van 8 tot 12 Oktober aan die Europese kampioenskap se C-afdeling in Noorweë gaan deelneem.

McIntyre, wat al meer as ‘n dekade aan rolstoelrugby deelneem, is ook lid van die Bloemfonteinse span, die Mustangs, wat vanjaar derde in die Suid-Afrikaanse liga geëindig het.

Hy het in Maart aan ‘n nasionale oefenkamp deelgeneem waarna 21 spelers genooi is. Uit dié groep is 12 spelers aangewys, wat daarna na tien verminder is.

Die tweede oefenkamp is op Vrydag 12 September gehou.

McIntyre was in 2013 en 2015 in die nasionale span, en het in 2015 aan die wêreldbekertoernooi in Londen deelgeneem.

Jared McIntyre in aksie op die rolstoel-rugbybaan. FOTO: Verskaf

Die deelname aan die Europese kampioenskap is Suid-Afrika se eerste tree terug na die internasionale kompetisie.

McIntyre verduidelik dat dit die span se doel is om vanjaar van die Europese C-afdeling na die B-afdeling te vorder en om die span se plek op die internasionale ranglys te verbeter.

“Dit is die eerste stap om weer te vorder tot by die Paralimpiese Spele.”

Rolstoelrugby word gespeel deur vier spanlede, en die span bestaan uit mans en vroue. Dit is die eniste gemengde volkontak-spansport op die Paralimpiese Spele.

Gewone rolstoelrugby is vir mense met gestremdhede in ten minste drie ledemate, hoewel die sport op sosiale vlak ook nou uitgebrei word na mense met ‘n gestremdheid in een ledemaat.

Daar word na die nuwe afdeling van hierdie sportsoort verwys as rolstoelrugby-5-formaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article