Die Nasionale Museum se Jong Kunstenaar van die jaar spog vanjaar met baie oulike driedimensionele inskrywings. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN. Vanjaar is talle uitstekende inskrywings ontvang, en dit was veral die kinders se indrukwekkende driedimensionele kunswerke wat beoordelaars van die Nasionale Museum se Vrystaatse jong kunstenaar-eerbewyse beïndruk het.

“Ons is baie verras met die kinders se kunswerke,” het Esther le Roux van die Oliewenhuis-kunsmuseum, hoofbeoordelaar in die kompetisie, op Saterdag 30 Augustus op ‘n klein geselligheid in die Nasionale Museum in Bloemfontein gesê.

“Dit is duidelik dat die kinders vreugde vind in hul kuns. Dit is belangrik dat die skeppingsproses vir jou lekker is.”

Jess Nhlapo (7) was die wenner in die afdeling vir kinders 5 tot 9 jaar. Hier om sy trofee te ontvang is personeel van Blaize Joyced Mahlatsi en Inge Bezuidenhout. FOTO’s: Lientjie Mentz

Le Roux sê dit is wonderlik hoe die kinders in alledaagse voorwerpe die potensiaal sien om dit in iets anders te omskep.

Die tema “Gemaak van plastiek” het kinders uitgedaag om te dink oor plastiek en die beskerming van die natuurlewe.

Luhan Opperman (15) is wenner in die afdeling vir hoërskoolleerlinge van die Nasionale Museum se Vrystaatse jong kunstenaar-eerbewyse.

Kinders van vyf tot 19 jaar is uitgedaag om kunswerke te maak oor die invloed, uitdagings en oplossings van plastiekbesoedeling op die natuur.

Die wenner in die ouderdomsgroep vyf tot nege jaar, afdeling A, is Jess Nhlapo (7) van die Blaze Sanctuary. Hy het prysgeld van R1 500 gewen. Tweede in dié afdeling was Ester-Marie Wessels (8) van die Proorizo Boutique School; en derde was Adassah Williams (7) van die Missio Dei Christian School.

Miya Maartens (12) was tweede in haar afdeling. Foto’s: Lientjie Mentz

In afdeling B, vir leerlinge tien tot 14 jaar oud, is die wenner Isabel van der Poel (14) van die Hoërskool Sentraal. Sy het R2 000 prysgeld ontvang. Tweede in dié afdeling was Miya Maartens (12) van die Heuristica Private School; Cherise Louw (12), wat tuisonderrig ontvang, was derde.

Isabel van der Poel (14) se kunswerk het aan haar ‘n eerste plek besorg.

In afdeling C, vir leerlinge 15 tot 19 jaar oud, is die wenner, wat R3 000 prysgeld ontvang het, Luhan Opperman (15) van Grey-kollege (sekondêr). Tweede in die afdeling is Tshiamo Moerane (17) van die Petunia Secondary School; en Schalk van der Merwe (16) was derde.

Die uitstalling van die kunswerke wat vir die kompetisie ingeskryf is, is in die Nasionale Museum te sien.

Ester-Marie Wessels (8) met die kunswerk wat aan haar ‘n tweede plek besorg het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article