Die Hoër Meisieskool Oranje het vanjaar deur in yskoue water te swem, R261 006 vir Engo se kinder- en jeugsorgsentrums ingesamel.
Hierdie liefdadigheids- en geldinsamelingsprojek, bekend as die Yseendswem, het uit twee bene bestaan.
Die eerste been was 61 swemmers wat elk 25 lengtes afgelê het en borge gekry het om hulle per lengte te borg.
Die tweede been het bestaan uit leerlinge wat tydens hul lewensoriëntering-periode een lengte geswem en R50 of meer bygedra het.

Altesaam 401 Oranjeniete het die koue waters aangedurf. Sommige onderwysers, die oudste onder hulle ‘n 70-jarige, was ook in die water.
Die watertemperatuur was meestal rondom 11°C.
Een leerling het van haar spaargeld gebruik om tot die projek by te dra. ‘n Ander leerling het weer geld namens behoeftige leerlinge in haar klas geskenk.
Die gr.8E-klas het die prys, ‘n afdag, vir die meeste deelname gewen. Al 36 van hulle het geswem.
Nanette Jordaan, Oranje se swemkaptein wat ‘n reuse-aandeel in die sukses van die projek gespeel het, het R50 000 se borgskappe ingewin.
De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo Vrystaat, sê hul hart loop oor van dankbaarheid.
“Oranje, julle is Engo se ware yseendheldinne. Dankie Nanette, dat jy die leerlinge geïnspireer het om hiervan ‘n baie spesiale projek te maak.
“Ek is oortuig dat as die wêreld meer omgeeharte soos julle gehad het, sou dit ‘n beter plek gewees het,” het hy gesê.
Volgens Ruan Bruwer, bemarker by Oranje, was hy aangenaam verras hoe die leerlinge die projek ondersteun het.
“Hulle het as’t ware hul hart en beursie wyd oopgemaak. Leerlinge wil graag liefde deur liefdadigheid betoon – ‘n mens moet net vir hulle ‘n geleentheid skep.”






You must be logged in to post a comment.