Dit is veral pensioentrekkers wat gereëld deurloop weens kubermisdaad.
Klagte word weekliks ingedien, en die vermoede bestaan dat daar moontlik ‘n sindikaat is wat vir die grootste deel van dié misdaad verantwoordelik is.
Die Direkteur van Openbare Vervolging in die Vrystaat het gevra dat ‘n praatjie so gou moontlik aangebied word om lede van die publiek in te lig oor hoe om hulself in hierdie verband te beskerm.
Adv. Vic de Bruyn, ‘n senior staatsaanklaer, praat op Donderdag 7 Augustus oor dié onderwerp op ‘n vergadering van die University of the Third Age (U3A).
Ashely Wilson, ‘n advokaat en voormalige staatsaanklaer wat nou by FNB werk, sal ook wenke gee.
BloemNuus het in April berig dat die Bainsvlei-polisie daagliks met klagte van kubermisdaad oorval word.
Een van die platforms waarop mense hulle gereeld vasloop, is Facebook − waar vals verkope gedoen word.
Kapt. Thapelo Motseki sê daar is talle geloofwaardige verkope op Facebook, maar baie mense verloor hul geld en kry nooit die produk nie.
Mense word ook nog gereeld gevang deur misleidende oproepe van misdadigers wat voorgeee dat hulle van die bank se bedrogafdeling bel.
Die publiek kan Donderdag om 10:30 in die Sewe Damme-aftreeoord se saal na die twee kundiges luister. Lede van die U3A betaal R10, en gaste betaal R20.




