Pauline Gutter se kunswerk is op 1 en 2 Augustus by die Monte Bello-wynfees te sien.

‘n Waarlik inspirerende ervaring wag op besoekers wat op 1 en 2 Augustus die Monte Bello-wynfees in Bloemfontein bywoon.
Die Vrystaatse kunstenaar Pauline Gutter se indrukwekkende kunswerke sal vir die twee dae van die fees te sien wees.
Haar uitstalling Pastoral Ornaments was onlangs op die wynlandgoed Glen Carlou in die Wes-Kaap te sien en het resensente meegevoer na plekke diep in die Suid-Afrikaanse bosveld, en verder.
Pastoral Ornaments is ‘n versameling kunswerke wat sy die afgelope drie jaar gemaak het.
Dit sluit kunswerke in wat hul oorsprong het in ‘n kunstenaarsresidensie op die private reservaat Lion Sands aan die oewer van die Krokodilrivier.

Pauline Gutter by die skildery Soul of the Ape wat deel van haar uitstalling Pastoral Ornaments vorm: FOTO: Francois van Vuuren


Die olieskilderye wat daaruit voortgevloei het, is by Gutter se studio op die oewer van die Taaiboschsspruit buite Verkeerdevlei op die ooptes van die Vrystaatse vlaktes geskilder.
Alles is ‘n weerspieëling van die aardse okerkleure van die beskermde biome wat sy graag bestudeer.
Een van die werke in die versameling is ‘n reuse-skildery van ‘n bobbejaanmannetjie, genaamd Soul of the Ape − genoem na die boek deur Eugène Marais.
“Die skildery is ‘n metafoor vir die huidige omstandighede van die wêreld waarin ons leef,” sê Gutter.
“Dit verbeeld die magtelose stil kreet van die natuur versus die selfsugtige uitlatings deur individue wat aanhou wette maak wat die ewewig en balans nog verder versteur.”
Dit is egter nie net kunswerke wat besoekers aan die fees gaan meevoer nie. Terwyl gaste die kuns bewonder, kan hulle aan wyn van 12 wynlandgoedere proe.
Op die fees van kuns en kurkproppe sal onder meer pinotage van Beyerskloof geproe kan word. Dié is ‘n eg Suid-Afrikaanse wynversnit wat in 1925 uit Pinot noir en Cinsaut geskep is.
Die fees beloof ‘n diep sintuiglike ervaring. Besoekers word genooi om boonop ‘n begaafde kunstenaar te ontmoet én van die land se beste wyne te geniet.

Stampede, een van die kunswerke in die uitstalling. FOTO: Francois van Vuuren


Pauline sê die uitstalling by Monte Bello is vir tyd en wyl haar laaste solo-uitstalling in Suid-Afrika.
“Ek en my man vertrek weer middel-Augustus na ons plaas in Texas, waar ek gaan werk aan my uitstalling wat in Desember in Bankersmith aangebied word.”
Kaartjies kos R150 en is op computicket.com beskikbaar. Geen kinders jonger as 18 jaar word toegelaat nie. Die fees duur op Vrydag 1 Augustus van 18:00 tot 22:00, en die Saterdag van 12:00 tot 18:00. Kos word by stalletjies verkoop.
■ Twee lesers staan die kans om elk twee kaartjies vir die fees te wen.
Like en share die inskrywing op Bloemnuus se Facebook en skryf tag ‘n vriend in comments om in te skryf vir die kompetisie. Skryf ook in comments of jy kaartjies vir 1 of 2 Augustus wil wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article