Lag, huil en saamkuier is om die draai met die Vrystaat Kunstefees wat volgende week begin.
Daar was reeds Maandag 6 Julie ‘n smakie van dit wat kom met onder meer Evita@90.
Die immergewilde Tannie Evita word 90 en sê ons moet die verlede onthou om die toekoms te waardeer.
Dié eenvrouvertoning is maar net die begin van ‘n week se drama, kuns en musiek.
Dan is daar kunstenaars wat deel geword het van die Vrystaat Kunstefees se hartklop.
Dit is stemme waarna feesgangers hunker.
Nog ‘n hoogtepunt op vanjaar se program is die vertoning van bekroonde kabaretsanger en aktrise Elzabé Zietsman.
Zietsman sê wanneer sy Vrystaat Kunstefees toe kom, voel dit vir haar asof sy by die huis is.
“Ek het van die beste tye van my lewe hier ervaar. Die Vrystaat het ‘n besonderse plek in my hart.”
Sy en haar vennoot, Johann Slabbert, het vir Bibi Slippers gevra om die teks te skryf.
“Ek is ongelooflik bly daaroor. Sy het ‘n werklik uitsonderlike teks geskryf.
“Die produksie het ook drie benoemings by die KKNK ontvang, onder meer vir Bibi se bydrae tot die teks.”
As mense uit die teater stap wil Zietsman hê hulle moet weet daar is altyd hoop.
“Hoop hoef nie noodwendig blink en rooskleurig te wees nie.
Soms lê dit net onder die oppervlak, onder die stoflaag, en jy moet net ‘n klein bietjie krap om dit weer raak te sien.”
Besoek die webwerf vrystaatkunstefees vir meer oor vanjaar se Vrystaat Kunstefees.






