Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum se ses lemoenbome het vanjaar ‘n ryke oes gelewer en dit is aan die kinders van Ons Kinderhuis- en Jeugsorgsentrum geskenk. Hier om die geskiedkundige lemoene te oorhandig is van links Wyno Simes (kurator van Naln), Abel Mocumi (Naln) en saam met hulle is Karen Beukes (bestuurder van Ons Kinderhuis). FOTO: Lientjie Mentz

Jeug smul weer aan stroopsoet Naln-oes

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum se ses lemoenbome het vanjaar ‘n ryke oes gelewer en dit is aan die kinders van Ons Kinderhuis- en Jeugsorgsentrum geskenk. Hier om die geskiedkundige lemoene te oorhandig is van links Wyno Simes (kurator van Naln), Abel Mocumi (Naln) en saam met hulle is Karen Beukes (bestuurder van Ons Kinderhuis). FOTO: Lientjie Mentz

Die 138 kinders van Ons Kinderhuis en Jeugsorgsentrum het Vrydag heerlik gesmul aan geskiedkundige lemoene uit die tuin van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln).

Wyno Simes, kurator van die museum, sê die ses bome wat sedert 2014 hier geplanis, het vanjaar ‘n ryke oes gelewer.

Die oorsprong van die lemoenbome by Naln is baie interessant.

Die bome is afstammelinge van die eerste bome wat destyds by die Ou Goewermentsgebou, geplant is.

Hoe dit gekom het dat ‘n uitheemse plant soos ‘n lemoenboom by die Goewermentsgebou geplant is, lui terug na die verkeerdelike druk van lemoene op die Vrystaatse wapen.

Met ‘n herdruk van die wapen in die laat 1800’s was daar by die Londonse drukker verwarring oor die naam van die Oranje Vrystaat en hulle het besluit dat dit eerder na lemoene as na die Nederlandse prins Willem V van Oranje, verwys.

“Hierdie taalkundige mistasting, wat met die druk van die eerste amptelike seëls van die Republiek van die Oranje-Vrystaat gebeur het, het die drukkery laat besluit dat die vryheidsboom op die wapen ‘n lemoenboom moet wees. Hulle het op eie inisiatief ‘n paar lemoene op die boom gevoeg,” verduidelik Amanda Groenewald, afgetrede museumgeesteswetenskaplike: versamelingbestuur by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln).

Die Ou Goewermentsgebou, wat Naln, die Derde Raadsaal en verskeie memorabilia van bekende letterkundiges

huisves, was van 1875 die Vrystaatse regering se administratiewe gebou.

Volgens Groenewald is daar in 1909/1910 ‘n lemoenboom in elke hoek en die vyfde een in die middel van die binnehof geplant nadat die lemoenboomfout in die provinsiale wapen ingesluit is.

“Hierdie lemoenbome het vir ongeveer ‘n eeu gegroei tot reuse-lemoenbome van ongeveer agt meter hoog. Elke jaar het hulle ‘n drag gesonde lemoene gelewer,” sê Groenewald.

Uiteindelik het ouderdom en wortelvrot die einde van ‘n era ingelui en die bome het die een na die ander begin vrek.

In ‘n poging om die laaste twee bome te red, het die destydse kurator van Naln, Otto Liebenberg, versoek dat genetika van die bome na die Citrus Research International (CRI) in Nelspruit geneem word.

Hierdie genetika is op die wortelstok van die Swingle citrumelo geënt en die jong boompies is oor die jare in Naln se binnehof gevestig.

Vandag dra die ses nuwe lemoenbome elke jaar ‘n goeie oes wat personeel elke jaar aan ‘n liefdadigheidsorganisasie skenk.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article