Die einde van ‘n era het vir vroue wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se UV Vroueklub verbonde was, aangebreek.
Ná 71 jaar (amptelik van 1955 tot 2026) waartydens die klub funksioneer het, het die laaste amptelike vergadering op 16 April plaasgevind. Die bestuur het tot die slotsom gekom dat dié era nou afgesluit moet word.

Die klub was sedert sy ontstaan ‘n baken van toewyding, vriendskap en diens aan die UV.
Aanvanklik het die klub bestaan uit die vrouens van akademiese en ander personeel verbonde aan die UV, en later het vroue wat aan die universiteit en die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege (BOK) verbonde was, saam gekuier, gewerk en groot geleenthede aangebied.
Retha Wolfaardt, een van die laaste bestuurslede, sê daar was baie goeie jare.


Sy sê die UV Vroueklub het op verskillende maniere aan die universiteits-gemeenskap teruggegee. Dit sluit in beurse wat aan studente toegeken is, spyseniering wat vroeër jare by gradeplegtighede gedoen is, en meer.
Kathy Verwey was die laaste dienende voorsitter van die groep. Sy sê die einde van die groep was onvermydelik.

“Van die 45 lede wat ons hier aan die einde was, se gemiddelde ouderdom is sowat 80 jaar. Ek is by verre die jongste lid.”
Marietta de Kock, wat sowat 62 jaar lid was, sê die UV was later die enigste universiteit wat nog ‘n vroueklub gehad het.

Elsa Joubert, wat 61 jaar deel van die klub was, sê die saamkuier, interessante praatjies en uitstappies laat goeie herinneringe.
“Ons het ‘n spesiale verbintenis met die universiteit en het goeie tye saam beleef.”

Almal is dit eens dat vriendskappe gevorm is en dat die tyd wat hulle saam deurgebring het, besonders was.
Die laaste geld van die klub word as ‘n beurs aan ‘n UV-vrouestudent geskenk.






You must be logged in to post a comment.