Die Sand du Plessis-amateurstoeiklub het op Saterdag 18 April uitstekend gevaar op die tweede Vrystaatliga-byeenkoms, wat by die Goudveld-stoeiklub in Riebeeckstad aangebied is.
Altesaam 161 inskrywings is vir die byeenkoms ontvang, waarvan 55 van die Sand du Plessis-amateur-stoeiklub.
Lede van die klub het 32 eerste plekke, 10 tweede plekke en 6 derde plekke behaal.
Deelnemers het in verskillende ouderdomsgroepe en gewigsafdelings meegeding.
Die standaard van stoei was besonder hoog, en sterk kompetisie is deurgaans tussen die onderskeie klubs ervaar.
Die Sand du Plessis-amateurstoeiklub se stoeiers kom van verskillende skole in Bloemfontein en omgewing.
Benewens dié wat tuisonderrig ontvang, sluit dit leerders in van: Grey-kollege, die Laerskool Sentraal, die Laerskool Jim Fouché, die Laerskool President Brand en die Laerskool Universitas.
Die jong stoeiers het deur die loop van die ligabyeenkoms uitstekende dissipline, deursettingsvermoë en spanwerk getoon.





