PAARL – Die Du Toitskloofpas is tans vir alle verkeer gesluit nadat twee vragmotors in ’n botsing betrokke was, terwyl nooddienste gelyktydig ’n groot veldbrand in dieselfde omgewing bestry.

Volgens ‘n verklaring die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) is die pas gesluit weens ‘n ongeluk waarin twee vragmotors teen mekaar gebots het. Opruimingswerk is tans aan die gang en kan nog geruime tyd duur.

Intussen het die KWDM se branddienste bevestig dat hulle na ’n brand bo-op die pas ontplooi is. Die vuur, wat op privaat grond brand, het reeds oor ’n groot gebied versprei.

Ongeluk
Die Du Toitskloofpas is tans gesluit weens ‘n vragmotor ongeluk. Foto: Verskaf

Tien brandweervoertuie en hul bemanning is na die toneel gestuur en word deur addisionele grondspanne ondersteun wat waterspuitpype gebruik om die vlamme te probeer stuit. Lugondersteuning word deur twee helikopters verskaf wat tans water oor die brandgebied stort.

CapeNature is ook op die toneel en het ’n grondspan ontplooi om met die bluswerk te help.

Brandvoertuie maak tans van die pad gebruik om toegang tot die brandgebied te verkry. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik totdat die situasie onder beheer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article