Mattwin Christoffels, die woelige losvoorspeler van Villagers Montagu (Sesduim) duik met ‘n verdediger van Rangers De Hoop RVK op sy rug oor die doellyn. Christoffels het uitstaande spel gelewer en vier drieë gedruk. Sesduim, wat dié eersteronde-Streekuitdaagwedstryd met 72-9 gewen het, het altesaam 12 drieë gedruk. Die kragmeting is op die King Edward-sportterrein in Montagu beslis. Foto: Norman Evertson

Die Boland-rugbyunie se onderskeie klubrugbykompetisies – die Grootuitdaagbeker, Streekuitdaagbeker en Gemeenskapskild – het die afgelope Saterdag (7 Maart) in alle erns afgeskop met ‘n reeks opwindende wedstryde, wat opmerlike terugvegpogings en indrukwekkende prestasies opgelewer het.

Die eersteronde-Grootuitdaagbekerwedstryd tussen Ashton United en Montagu-klub sal lank onthou word vir die tuisspan se merkwaardige terugvegpoging in die tweede helfte. Ashton moes diep delf om na dié opwindende kragmeting op die Cogmanskloof-sportterrein as wenner van die veld af te stap. Montagu het met ‘n Ryan George-strafdoel eerste bloed geruik en teen rustyd ‘n gerieflike voorsprong van 20-6 geniet. Dit is onbekend wat Brandon Baartman, die afrigter van Ashton United, rustyd vir sy spelers gesê het, maar ná die blaaskans het die tuisspan met ‘n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom. Nie net het Unies, soos die span deur sy ondersteuners genoem word, sy agterstand heeltemal uitgewis nie – hy het selfs die voortou geneem en die stryd 37-20 gewen.

Multisure Villagers Worcester moes op Bolandpark ook op meer as net geluk staatmaak voordat hy die nuwe toevoeging tot die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaagwedstryd, Young Good Hopes van Ashton, met 44-41 die loef kon afsteek. Die besoekers was teen rustyd teen die verwagting in met 28-21 voor. Good Hopes word deur twee voormalige Villa-spelers afgerig en pronk ook met een van Villa se oud-skerpskutters, Austin Hendricks, in hul geledere, asook twee voormalige uitblinkers van Young Hamiltons, Luciano en Jerico Truter.

Die wedstryd het op ‘n positiewe noot vir die besoekers begin toe die binnesenter,

Gregory van der Bank, in die vierde minuut oor is vir ‘n drie wat Hendricks verdoel het om die voortou met 7-0 te neem. Villa se kaptein vir die dag, die senter Henrico Jacobs, is met ‘n geelkaart koelkas toe gestuur, wat Good Hopes laat terugkom het met drieë deur die slot Lifa Nikani en die stut Theunill Gerber, asook die buitesenter Jerico Truter. Ná rustyd het Villa met mening terugbaklei en met drieë deur die haker, Keith Arnolds, en die regtervleuel, Eushaan van der Merwe, het die tuisspan die voortou geneem. Met die uurglas wat vinnig begin leegloop het, het die losskakel, Gurshwin Joubert, egter ‘n blitsige skepskop oorgeklits om Villa tot groot vreugde van sy ondersteuners met 44-41 van die veld af te laat stap.

Intussen het Villagers Montagu, oftewel Sesduim, sy rugbyseisoen in die Streekuitdaagbekerkompetisie met ‘n indrukwekkende sege begin deur Rangers De Hoop RVK van Robertson sonder veel moeite met 72-9 op die King Edward-sportterrein op Montagu kaf te draf. Sesduim is einde verlede jaar uit die Grootuitdaagbekerkompetisie na die Streekuitdaagkompetisie gerelegeer nadat hy die promosie/relegasiewedstryd teen Alberts RVK van Worcester verloor het. Die tuisspan het Rangers De Hoop heeltemal met ‘n allemintige 12 drieë oordonder, waarvan die woelige losvoorspeler Mattwin Christoffels vier keer agter Rangers De Hoop se doellyn gaan kuier het. Met dié kragvertoning het Sesduim ‘n sterk boodskap na die res van sy teenstanders in die Langeberg-streekuitdaagkompetisie gestuur.

• Saterdag (14 Maart) reis die Multisure Villagers na Robertson, waar hy teen Rangers te staan gaan kom. – Alver Uys en Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article