Transnet gooi plakkers na maande uit en sloop ou motorhuise

Dit is hoe die motorhuise en draadhokke oorkant die Worcesterstasie gelyk het voordat dit afgebreek is.

Die plakkers wat in die ou motorhuise oorkant die Worcesterstasie gebly het, is deur Transnet verwyder. Die motorhuise en draadhokke is afgebreek sodat hulle nie kan terugkeer nie.

Dit kom as goeie nuus vir inwoners in die omgewing, wat gekla het dat daar misdadige elemente onder dié groep mense was. Daar was klagtes dat werkers van die Laerskool Wynland deur dié plakkers aangerand is en ‘n wapen is glo deur die polisie tussen hul besittings gevind.

Die skool het skade gely as gevolg van geknipte drade, die diefstal van krane en waterpype, asook kragbokse waarvan die drade geknip is.

Só sien die stuk grond waarop die plakkers gebly het daaruit ná die geboue deur Transnet gesloop is.

Inwoners in die omgewing het onveilig gevoel en gekla die motorhuise en draadhokke was baie vuil en onhigiënies en vullis is daar gestort.

Volgens die raadslid dr. Julian Kritzinger was die plakkers nie op munisipale eiendom nie en kon wetstoepassers dus nie teen hulle optree nie.

Transnet se regsafdeling het ‘n uitsettingsbevel bekom om daardie plakkers uit te sit en Transnet het die draadhokke afgebreek,” het hy gesê.

“Die wyksraadslid van Wyk 12, raadslid Vernon Bedworth, was die hele tyd betrokke by die proses en het met Transnet geskakel om die probleem onder hulle aandag te bring en op te volg.”

Transnet het gesê die verwyde­ring van dié plakkers was deel van ‘n gekoördineerde optrede saam met die polisie.

“Die strukture is onwettig bewoon en op ‘n manier gebruik wat veiligheids- en bedryfsrisiko’s veroorsaak het,” het Transnet gesê.

“ ’n Ontleding het gewys dat die onwettige bewoners uit nabygeleë gemeenskappe kom. Hierdie ingryping is gedoen om openbare veiligheid en verantwoordelike batebestuur te verseker.”

Om te verseker dat soortgelyke voorvalle nie weer plaasvind nie, het Transnet Property aangedui

hulle het bykomende veiligheids­maatreëls ingebring, soos om die vensters en deure van oorblywende geboue in die gebied te beveilig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article