Lede van Worcester polisie is aangeval tydens ’n roetine patrollie in Roodewal.


’nMan van Roodewal het sy moses teëgekom toe hy in die polisie se pad gestaan het.

Die manewales het Saterdag (30 Maart) om 20:10 begin ontvou.

“Polisielede was besig om in Roodewal by die Z-blok te patrolleer. Hulle het toe ’n groep mense sien staan en besluit om daar te gaan stop,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Een van die mense wat daar gestaan het, het egter weggehardloop toe die polisievoertuig daar stilgehou het.

“Een man het begin weghol. Een van die polisielede het hom toe agternagesit, maar die man het by ’n huis ingehardloop waar die voordeur oop was. Die deur is toegemaak en ’n ander man het die deur (van buite) toegehou om te keer dat die polisielid ingaan.”

Die man wat die deur toegehou het, het die polisielid toe begin slaan.

“Hy die lid in die gesig met die vuis begin slaan. Die lid het nie ’n keuse gehad as om terug te baklei nie. Met die hulp van nog ’n polisielid kon hulle die man in hegtenis neem, maar nie voordat hy erg tekeregegaan het nie.”

Op pad na die vangwa het die gemeenskap egter die polisie met klippe begin gooi.

“Die man het toe uitgeroep na die gemeenskap wat rondgestaan en toegekyk het en die polisie met klippe bestook. Hulle het ook die voorruit van die polisievoertuig uitgegooi. Een van die ander mense wat ook by die groep mense gestaan het, het toe die polisie toestemming gegee om rubberkoeëls en skokgranate te gebruik om die skare uitmekaar te jaag,” sê Jacobs.

Die polisiebeampte het net ’n bloedneus tydens die gestoeiery opgedoen. Die man wat in die eerste plek weggehardloop het, is nooit opgespoor nie en dit is onbekend hoekom hy weggehardloop het.

Die man wat in hegtenis geneem was, sal op aanklag van aanranding van ’n polisiebeampte in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article